Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het Vrydagoggend ’n nuwe vriend aan die leerders by Avianpark Primêre Skool bekendgestel.
“Brandweerman Blaze”, ’n Dalmatiese hond, het Vrydag baie vreugde aan die leerders by dié skool verskaf.
“Die BVM se brandweer het iets gesoek om belangrike inligting oor brand- en lewensveiligheid op ’n prettige manier aan kinders oor te dra. Ons het die Dalmatiese hond gekies op grond van die historiese rol wat hy gespeel het in die beskerming van die brandweer en omdat ’n hond dapper, beskermend en veiligheidsbewus is,” verduidelik Hannelie Botha, ’n woordvoerder van die BVM.
Sy het ook vertel dat honde vroeër gebruik is om die perde wat destyds die waterpompe getrek het, te beskerm.
“Een van die probleme destyds was rondloperhonde wat die perde aangeval het. Die brandweer het dus ’n troppie Dalmatiese honde gehad wat altyd saam met die perde gehardloop en die perde so teen die rondloperbrakke beskerm het,” vertel sy.
Voorts gaan Blaze die kwesbaarste ouderdomsgroepe oor brande inlig – oor die gevare en wat om te doen.
“Die kwesbaarste ouderdomsgroep tydens struktuurbrande (veral informele strukture) is kinders tussen die ouderdom van 1 tot 6 jaar. Dit is ongelukkig die groep wat die meeste ernstige beserings en noodlottige brandwonde tydens die brande opdoen.”
Blaze se doel is om belangrike inligting op ’n vriendelike manier aan die kinders oor te dra.
“Blaze is een van die pyle in ons opvoedings-koker wat gebruik gaan word om ’n vriendelike en toenaderende omgewing te skep, wat die kinders gemaklik en ontvanklik sal maak vir die oordrag van hierdie belangrike inligting.”
Brandweerman Blaze is natuurlik in ’n brandweerman se uniform geklee, en dis nie net vir die kindertjies se vermaak nie.
“Een van die lesse is om die jonger kinders bloot te stel aan hoe ’n brandweerman lyk wat in sy volle beskermende drag met sy asemhalingsapparaat op sy gesig geklee is. Dit kan vir jonger kinders ’n vreesaanjaende gesig wees om te aanskou en hulle sal eerder wegkruip van so iets. Ons probeer dus op verskeie maniere om die kind op ’n positiewe en prettige manier te bereik.”
. Kontak Mariette Davids (senior brandweerbeampte) by 023 348 9062 om ’n afspraak te maak vir jou skool, speelgroep, kleuterskool of organisasie sodat Brandweerman Blaze jou leerders kan touwys maak.
. Die brandseisoen is om die draai. Hou dus hierdie nommers byderhand: Brandweer: 023 342 2430; Noodnommer vir selfone: 112Noodnommer vir landlyne: 107(Vra vir Breedevallei- of Worcester-brandweer/Fire Department).





