’n Padveiligheid-bewusmakingsveldtog is onlangs by die Primêre Skool Overhex buite Worcester gehou.Foto: Enrico Claassen


Op 6 Maart vanjaar het ’n vragmotor die sesjarige Ivano Sindi, ’n graad R-leerder aan die Primêre Skool Overhex buite Worcester, doodgery.

In 2012 is die skool se opsigter, James Ryan, dood toe ’n trein die motor wat hy bestuur het, getref het terwyl hy op pad skool toe was.

Die voorval het op die spoorlyn wat knap langs die skool verbyloop, plaasgevind.

Laetitia Hendricks, die skoolhoof, sê aan Standard Breederivier Gazette die skool het jare gelede aansoek gedoen vir skoolvervoer omdat baie skoolkinders verbonde aan die Primêre Skool Overhex al deur spoedvrate op die Robertson-pad raakgery is.

Volgens Hendricks het leerders van sover as Rainbow-plase, Bo Aan De Doorns, die Pampoenstal en die plaas Tweefontein, sowat 5 km van die skool, voorheen skool toe gestap.

Sy sê Ivano se lewe is kortgeknip toe hy uit die bus wat hom huis toe neem, geklim en ’n vragmotor hom getref het. Die voorval het op die pad naby die plaas Oudewagenddrift plaasgevind.

Volgens Hendricks maak sowat 99% van leerders by haar skool sedert 2009 van skoolvervoer gebruik.

Aan die vooraand van die feestyd en in die lig van bovermelde voorvalle het die Kaapse Wynland-distriksmunisi­paliteit in samewerking met die Wes-Kaapse departement van mobiliteit se direktoraat padveiligheidsbestuur, die Breedevallei-munisipaliteit (verkeer [Shaun Oliphant] en brandweer), die Wes-Kaapse mediese nooddienste, die Worcester-polisie en lede van die Spiritual Crime Prevention Forum in Worcester verlede Maandag (28 Oktober) gr. 6- en gr. 7-leerders van die Primêre Skool Overhex oor onder meer padveiligheid geleer.

Oktober is Nasionale Vervoermaand en volgens Chrystal Nyman, assistent-direkteur van padveiligheidsbestuur van die Wes-Kaapse departement van mobiliteit, is dit wanneer verhoogde klem gelê word op padveiligheidbewus­makingsintervensies onder padgebruikers – veral voetgangers, wat die kwesbaarste is.

Die skool is langs ’n spoorlyn en op die kruising van die besige R60 / Overhex- en Aan De Doorns-paaie geleë.

In die lig van die komende skoolvakansie en feestyd is onder meer padveiligheidswenke met die leerders gedeel.

Die bewusmaking het gefokus op die belangrikheid van sigbaarheid wanneer leerders na en van die skool loop – asook enige ander tyd wanneer hulle langs die pad loop.

Hulle is ook bemagtig met kennis van hoe om ’n pad veilig oor te steek, om veilig langs die pad te loop en hoe om veilig te wees – selfs as ’n insittende in ’n bus.

Verteenwoordigers van die Wes-Kaap se mediese nooddienste en brandweer het breedvoerig aan leerders verduidelik hoe om ’n ongeluk aan te meld en watter noodsaaklike inligting hulle aan operateurs moet deurgee.

Verskeie noodnommers is ook met die leerders gedeel.

Leerders is by dieselfde geleentheid ook bemagtig met kennis met betrekking tot alkohol- en dwelmmisbruik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article