Die Brave Heart Home in De Doorns hou oor ’n paar weke ’n konsert om broodnodige geld in te samel.
Die kinderhuis is in 2011 op die been gebring en help kinders wat deur hul ouers verwerp is of wat glad nie ouers het nie.
“Ons het besluit om hierdie konsert te hou om geld vir die huis in te samel omdat ons net gedeeltelik deur die staat finansier word,” verduidelik Dorina Olivier, ’n lid van die beheerraad.
Die huis bied nie net slaapplek vir die kinders nie, maar ook daaglikse ontbyt, middagete en aandete.
“Ons het ook ’n opvoedkundige program wat ons volg. Ons het ’n program vir die kleintjies tussen nul en twee jaar oud en ’n aparte program vir die kinders van drie tot vier of vyf jaar.”
Olivier beskou die konsert ook as ’n soort bewusmakingsveldtog.
“Daar is nog soveel mense wat nie weet van ons en die dienste wat ons aan hierdie kindertjies bied nie. Dis ook een van die redes hoekom ons besluit het om hierdie konsert te hou sodat ons naam daar buite in die gemeenskap bekend sal word.”
Verskeie plaaslike kunstenaars gaan sorg die gehoor word behoorlik vermaak. Van die kunstenaars wat gaan optree, sluit in Garro G, Young D, Shin Lim, Bolla Rapper en Mkhay.
- Die konsert vind op Saterdag 15 Oktober in die De Doorns-gemeenskapsaal plaas. Die deure open om 18:30. Kaartjies kos R20 vir volwassenes en R10 vir kinders. Daar sal ook verversings te koop wees. Vir meer inligting, skakel 078 527 3555 of 073 896 7207.




