’n Gesin van Worcester is al hul besittings kwyt en ’n jong seun sterk in die Rooikruis-hospitaal aan nadat ’n brand verlede week by hul huis uitgebreek het.
“Ek het Donderdagaand seker net so ná elfuur ’n oproep gekry oor die hokkie waarin my suster Shantel en haar gesin woon, wat gebrand het,” vertel Rozane Jansen oor die nuus wat sy die Donderdagaand 9 Junie ontvang het.
“Dit het glo 22:00 al begin brand.”
Die brand is vermoedelik deur ’n kers veroorsaak en is later met die hulp van die gemeenskap geblus.
Twee van die drie kinders in die huis het ongedeerd uit die vlamme ontsnap.
“Die oudste seun, die 18-jarige Ethan, het eerste ontdek die huis brand en het ontsnap. Wonderbaarlik het sy broertjie, Bradley, en sussie, Chanté, ook later by hom aangesluit,” verduidelik Rozane.
Maar Bradley – die jongste lid van die Jansen-gesin – het ongelukkig die ergste daarvan afgekom
Dié sesjarige se gesig en arm het brandwonde opgedoen en hy ly aan rookinaseming.
Die familie kon teen druktyd nie bevestig wanneer hy uit die hospitaal ontslaan sal word nie, maar hulle hoop vir goeie nuus.
“Bradley is in ’n kritieke toestand, maar ons bid dat hy ten volle sal herstel. Sy ma is tans saam met hom in die hospitaal.”
Hoewel hulle graag uit Kaapstad sal wil terugkeer Worcester toe, sit hulle sonder slaapplek of eie besittings.
Rozane sê hulle het dringend die hulp van die gemeenskap nodig.
“Die drie kinders het alles verloor.”
Indien iemand die gesin kan help, kan hulle Rozanne Jansen by 067 786 5201 bel of by Novemberstraat 40 besoek.





