’n Kleutermeisie, nog nie eens vyf jaar oud nie, het vroeër vandeesmaand ’n rewolwer in die strate van Pinevalley in Wolseley opgetel.
Volgens ’n polisiewoordvoerder het ’n ma en haar klein dogtertjie twee polisiemanne langs die pad gestop.
“Die dogter is so drie of vier jaar oud. Volgens haar ma het sy die wapen in ’n straat naby die informele strukture in Pinevalley opgetel terwyl sy gespeel het. Sy het dit vir haar ma gewys en hulle al twee het gedink dis ’n speelding. Maar by nadere ondersoek het die ma besef dis ’n regte vuurwapen, want dit was gelaai.”
Die twee polisiemanne het op 7 Junie lasbriewe vir inhegtenisnemings uitgevoer.
“Die ma en haar dogtertjie het die twee op die hoek van Peacestraat gestop. Sy het gesê as hulle nie toevallig daar verbygery het nie, sou sy nooit die rewolwer na die polisiekantoor geneem het nie omdat sy nie veel vertroue in polisiemanne het nie. Maar toe sy hulle sien, het sy besluit om dit aan hulle te oorhandig.
“Hulle is net baie bly dat hulle op die regte plek op die regte tyd was, want wat sou dan van die wapen word? Dit sou moontlik net weer in een of ander misdaad gebruik word.”
Die twee polisiemanne het die rewolwer saam met hulle na die polisiekantoor geneem en seker gemaak dit word ingeboek.
“Een van ons ander kollegas het saam met hulle die wapen ondersoek om seker te maak dat dit wel ’n regte een is en nie ’n speelding nie.
“Dit is toe ingeboek en sal gestuur word vir ballistiese toetse sodat die eienaar van die wapen opgespoor kan word en ook om vas te stel of dit verband hou met enige gerapporteerde sake van misdaad,” sê die woordvoerder.
Hulle meen ook dit was ’n riem onder die hart dat die vrou hulle in haar vertroue geneem het om die rewolwer veilig by die polisiekantoor te besorg.




