Die laaste kieserregistrasie-naweek onlangs het ’n beduidende aantal nuwe kiesers gelok, sê die OVK Wes-Kaap se provinsiale kiesbeampte, Michael Hendrickse.
Hy se die kieserslys in die Wes-Kaap het volgens die jongste registrasiedata tot ’n bemoedigende 3 269 644 gegroei. Dit verteenwoordig 63,8% van die stemgeregtigde bevolking in die Wes-Kaap.
Meer as 160 000 burgers in die provinsie het die naweek van 3 en 4 Februarie aan kieserregistrasie deelgeneem:. 39 694 wat nuwe registrasies was;. 48 135 het herregistreer, en. 72 721 het in verskillende stemdistrikte geregistreer nadat hulle van woongebied verander het.
Iets wat opvallend is, is dat die jeug die geleentheid aangegryp het om vir die eerste keer te registreer:. 20- tot 29-jariges was boaan die groep met 17 331; 18- en 19-jariges het op 3 743 te staan gekom en altesaam 5 699 16- tot 17-jariges het geregistreer.
Suid-Afrikaanse burgers het gebruik gemaak van die talle platforms wat beskikbaar was om te registreer, insluitend besoeke aan OVK-kantore, stemlokale en die aanlyn kieserportaal.
Die aanlyn kieserportaal by www.elections.org.za bly steeds oop vir eerstekeer-registrasie asook die opdatering van registrasiebesonderhede, veral adresveranderings, totdat die verkiesingsdatum in die Staatskoerant geproklameer is. Tot op daardie datum gaan die OVK ook voort met sy jeugveldtog op kampusse van universiteite en TVET-instellings.


