Aangesien die nood daar buite so groot is, benodig die Kibbutz El-Shammah in Worcester nog ’n huis van veiligheid vir kinders in nood en nog een waar dié kinders en hul ma’s gehuisves kan word.

Dié kibboets is ’n gemeenskaps-ontwikkelingsorganisasie geleë in die hartjie van Roodewal.

Nicolene Damons, wat verantwoordelik is vir die daaglikse bestuur van gemeenskapsprojekte by die kibboets, sê die organisasie beskik tans oor drie huise van veiligheid.

Volgens haar word altesaam 15 kinders tans in die betrokke veiligheidshuise gehuisves en versorg. Hul ouderdomme wissel van een tot 18 jaar.

Sy sê in dié stadium kan die bestaande veiligheidshuise by die kibboets nog net twee kinders huisves, terwyl die nood daar buite groot is.

Damons sê die kibboets het in 2019 die veiligheidshuis-projek begin omdat die kinders se omstandighede van so ’n aard was dat hulle nie meer veilig was nie.

Sy het ’n voorbeeld genoem van ’n getraumatiseerde kind wat uit ’n huis kom waar met dwelms gesmokkel en dwelms gebruik word en die ouer(s) nie altyd daar is om na kinders te kyk nie.

Volgens haar sien hulle ook om na kinders wat uit huise kom waar daar nie elke dag iets is om te eet nie. Sy sê wat gewoonlik in so ’n geval gebeur, is dat ma en kind die dag om slaap sodat die kind nie die hongerpyne kan voel nie.

“Dis hartseer dat dit op ons deur se drumpel gebeur.”

Damons sê vir ’n kind om honger te gaan slaap, om groot te word in ’n gebied waar daar geskiet word en in ’n huis waar daar gesinsgewld is, is traumaties vir die betrokke kinders.

Volgens haar is hul primêre taak om kinders se veiligheid te verseker.

“Dis nie maklik om groot te word en jy word nie versorg nie.”

Sy sê hul beleid is dat die kind altyd so na as moontlik aan hul familie moet wees om die band te behou, want op die ou einde moet die familie herenig word.

“Ons was darem nog nie in ’n situasie waar ons kinders moes wegwys nie, maar ons is bang ons kom by daai punt waar ons moet sê ons is nou vol.”

Volgens Damons kry hulle soms gevalle waar ’n ma en haar kind uit die huis geskop word. Sy sê baiekeer is dit die geval dat die ma se omstandighede van so ’n aard is dat sy wel na haar kind kan omsien, maar sy het nie ’n dak oor haar kop nie.

Damons sê aangesien by die kibboets nie plek is om ma en kind saam te beveilig nie, moet die ma dan weggewys word en dan probeer hulle die kind help.

Volgens haar mag die kibboets nou wel nie die geld hê om nog twee huise van veiligheid op te rig nie, maar beskik hulle oor genoeg ruimte waar huise opgerig kan word.

“As jy iets wil doen vir die gemeenskap, om die situasie te verbeter, ander mense se lewe te verbeter, help ons asseblief.”

. Enigeen wat bereid is om ’n hand na die Kibbutz uit te reik kan Damons by 079 895 6081 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article