Ná sowat twee jaar se donker brand die ligte weer by die Kibbutz El Shamma.
Nicolene Damons, ’n bestuurslid van die Kibbutz, sê hulle is dankbaar dat die ligte by die Kibbutz weer brand. Sy sê die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het voor die Paasnaweek ’n meter vir voorafbetaalde elektrisiteit by die sentrum geïnstalleer.
“Hulle het op 12 April gekom om die elektrisiteitsmeter te kom installeer sodat ons weer kan krag hê,” sê sy.
Damons sê die BVM het in April 2020, ten tye van die Covid-19-pandemie, die kragtoevoer afgesny weens die sentrum se hoë agterstallige elektrisiteitsrekening.
“Die munisipaliteit het die toevoer kom sny omdat ons nie die rekening kon betaal nie.”
Damons sê in daardie tyd het hulle steeds kos aan mense en kinders voorsien. Sy sê baie mense van Roodewal is van die Kibbutz afhanklik.
“Ons sien dienslewering as deel van mense se menswaardigheid en dit was moeilik om vir die mense daar te wees toe die elektrisiteit af was, maar noudat die krag weer aan is, kan ons weer voortgaan,” sê Damons.
Sy sê die ooreenkoms was dat die sentrum na ’n voorafbetaalde meter moet oorskakel dan sal die agterstallige rekening afgeskryf word. Sy sê sy weet nie of die skuld nou afgeskryf is nie, maar sal weet sodra hulle begin elektrisiteit koop.
Die Kibbutz bied drama, dans en sang aan vir die kinders van Roodewal en dien ook as ’n dagsorgsentrum. Damons sê die druk op die sentrum is geweldig om seker te maak die kinders het positiewe rolmodelle.
“Die kinders het begin mismoedig raak omdat daar ’n tekort aan elektrisiteit was omdat van die kinders die sentrum as ’n toevlug sien wanneer hulle uit ’n huis kom wat soms nie na wense is nie. Dit was die moeilikste, want hulle kom by die sentrum en dan sien hulle die krag is hier ook af,” sê sy.
Navraag is aan die BVM gestuur en sal gepubliseer word sodra dit ontvang word.. Werklose jongmense kan nou ook by die Atvance Academy, wat op die sentrum se terrein aangebied word, aansluit. Diegene tussen die ouderdom van 18 en 27 kan deur die week na die sentrum gaan met hul ID en bewys van hul hoogste kwalifikasie.
Die kursusse is gratis, sê Damons.




