Een van die eenhede op die prentjiemooi Vrolikheid-landgoed.


Verskeie ondernemings is onlangs in die jaarlikse Kfm Best of-kompetisie benoem, en die dorp self is in die kategorie Best Dorpie benoem.

Die Vrolikheid-landgoed is in die Best Weekend Stay-kategorie benoem.

“Ons is verskriklik opgewonde. Dit is ’n groot voorreg en groot eer om benoem te word. Ons bied ’n wonderlike ervaring vir ons gaste met ons drie gastehuise op die plaas. Dis privaat en baie romanties. Ons bied ook pieknieks, asook perdry en wynproe vir ons gaste aan,” het Antoinette Hauptfleisch, een van die mede-eienaars, aan Standard gesê.

Die gastehuise is maar vir twee en ’n half jaar aan die gang, en daar is ook twee eksklusiewe kampplekke op die landgoed.

“Ons het ook nog baie opwindende planne in die pyplyn.”

Saronsberg Vineyard Cottages is in dieselfde afdeling benoem. Hulle het 16 selfsorghuisies op die plaas, wat net die beste geriewe bied.

“Ons is ongelooflik geëerd en opgewonde oor hierdie benoeming. Ons het dit nie verwag nie. Ons is ook net so trots op die dorp Tulbagh. Hier is so baie om te doen in ons dorp en so baie interessante mense om te ontmoet; ’n mens besef dit nie altyd nie. Ons hou duim vas vir almal,” het Luciana van Huyssteen, die verblyfbestuurder, gesê.

Dis geen verrassing dat Kole & Deeg, met hul befaamde roosterkoek, in die Best Breakfast Spot-kategorie benoem is nie.

“Ons is natuurlik baie opgewonde hieroor. Dis die tweede jaar dat ons benoem word en ons gaan gewis ons bemarking tydens die stemperiode verskerp.

“Hierdie benoeming gee ons baie blootstelling en ons verdien dit. Ons het die laaste vyf jaar verskriklik hard gewerk en dit was nogal hectic. Toe ons nog voor dit begin het, het ons uit kratte gewerk; in 2016 het ons net aflewerings gedoen en later ’n pop-up gehad.

“Toe het ons ’n winkel in Ceres oopgemaak en later Tulbagh toe getrek,” verduidelik die mede-eienaar Etienne Abrahams.

Hy meen ook hul koffie is van die beste wat ’n mens kan kry.

Patty Nieuwoudt, uitvoerende hoof van die Tulbagh-toerismeraad, sê dit is lekker vir die dorp om erkenning te kry.

“Ons is regtig baie opgewonde hieroor. Dit sal fantasties wees as een van die benoemdes in ons streek kan wen.”

Sy noem ook dat besoekers aan die dorp die laaste ruk meer word.

“Ons is veral naweke baie besig – veral die verskeie selfsorgeenhede op die plase. En natuurlik is die trouvenues ook iets wat baie gaste na ons dorp bring.

“ ’n Groot klomp nuwe dinge gaan binnekort begin gebeur. En natuurlik lyk die vallei tans so mooi ná al die reën; die blomme lyk so mooi.”

Om vir jou gunstelinge te stem, besoek kfm.co.za/bestofthecape/.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article