Galinda Nelson (55), die sogenaamde “kettingvrou” van Worcester, se hofsaak is voorlopig tot 28 Maart uitgestel.
Nelson, wat teregstaan op twee aanklagte van kindermishandeling, se saak is volgens Eric Ntabazalila van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) uitgestel omdat sy versoek het dat sekere verklarings wat sy as deel van verdere besonderhede ontvang het, getik moet word.
By ’n vorige verskyning verlede jaar het sy haarself in die badkamer toegesluit en geweier om uit te kom.
Nelson is vroeg in 2019 in hegtenis geneem ná bewerings dat sy ’n pleegkind mishandel en aan ’n bed vasgemaak het.
Sy het glo ander kinders wat in haar pleegsorg geplaas is, sowel as haar eie kind, na bewering met karwatse geslaan.
Ná haar inhegtenisneming is die kinders uit haar sorg verwyder en in die staat se sorg geplaas.
Gedurende die meer as twee jaar wat dié saak op die rol is, het Nelson al twee keer haar regshulp laat vaar en gekies om haarself in die hof te verdedig.





