Die hofsaak van Galinda Nelson (56), die sogenaamde “kettingvrou” van Worcester, is voorlopig tot vandag (30 Maart) uitgestel.
Nelson, wat tereg staan op twee aanklagte van kindermishandeling, se saak is volgens Eric Ntabazalila van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) uitgestel omdat sy versoek het dat die verklarings in Engels vertaal moet word sodat sy daardeur kan werk.
Nelson het ook in Maart 2022 gevra dat van die besonderhede en inligting vir haar oorgetik moet word.
By ’n vorige verskyning in 2021 het sy haarself in die badkamer van die hof toegesluit en geweier om uit te kom.
Nelson is vroeg in 2019 in hegtenis geneem ná bewerings dat sy ’n pleegkind in haar sorg aangerand en aan ’n bed vasgemaak het. Sy het ook ander kinders wat in haar pleegsorg geplaas is, sowel as haar eie kind, na bewering met karwatse geslaan.
Ná haar inhegtenisneming is die kinders uit haar sorg verwyder en in die staat se sorg geplaas.
Gedurende die meer as drie jaar wat dié saak op die rol is, het Nelson al twee keer haar regshulp laat vaar en gekies om haarself in die hof te verdedig.
Volgens ’n bron na aan die ondersoek is die staatsaanklaer, advokaat Quinton Oosthuizen, tans besig om getuies te lei.
Soos per Nelson se versoek, behartig sy haar eie verdediging. In dié saak moet Nelson ook nog ’n getuie kruisondervra.
Talle meen die saak sloer onnodig en talle organisasies sover as Kaapstad volg hierdie saak in die belang van die kinders wat na bewering leed aangedoen is.





