Talle plante, bome en fynbos in dele van Worcester lyk skoon of dit vir die komende feestyd versier is, maar net as jy gebruikte kondome, plastieksakke en bottels as versierings kan beskou.
Talle inwoners van die Breedevallei is ontsteld oor rommel wat van die Worcester-stortingsterrein af rondwaai en op die Villiersdorp-pad, in Avianpark en selfs in die Hexrivier beland.
Die pad van Johnsonspark, wat by die R43 (Villiersdorp-pad) aansluit, is ook met rommel besaai.
Inwoners wat naby die stortingsterrein woon, het Standard gekontak oor die impak wat die stortingsterrein op die omgewing het.
“Ons kla heeltyd, maar dit val op dowe ore. Rommel waai oral rond en beland in die rivier. Ons het al selfs die raadslede saam met ons geneem en hulle sou kyk hoe die probleem opgelos kan word. Nou, maande later, is niks nog opgelos nie en dit word by die dag erger,” het ’n inwoner van Johnsonspark aan Standard gesê.
Volgens inwoners van Avianpark is dit ’n daaglikse probleem.
“Ons het al skoonmaak-inisiatiewe in werking gestel en ons probeer die plek skoon hou, maar niks werk nie.
“Basiese dienste word altyd versuim as dit by Avianpark kom, en ons sien maar net hoe waai al die gemors hierheen en ons moet dit maar aanvaar en daaroor loop,” het Lydia Cupido, ’n inwoner van Avianpark, gesê.
“Ek woon al bykans twee dekades hier (in Avianpark). Ek laat sak my kop in skaamte as ek soggens by my voordeur uitgaan. Ons bly sekerlik in die mooiste deel van die land, maar vir my en my gesin voel dit nie so nie. Dit is net een groot gemors,” sê Alfred Philander, ’n inwoner wat nou dringend na ander verblyfopsies kyk en eerder met sy gesin uit Avianpark wil verhuis.
“Kragprobleme, riool en vullis is ons voorland. Misdaad is ook buite beheer, maar ek meen ons betaal tariewe, nes elke ander Suid-Afrikaner wat ook in woonbuurte bly, maar ons trek aan die kortste ent,” voeg hy by.
Vullishouers en die oorstroming daarvan is net so groot probleem soos die rommel wat van die stortingsterrein af oor die pad gewaai word.
“Avianpark het nie genoeg vullishouers nie. Die munisipaliteit besef nie hoeveel mense hier woon en hoeveel mense van (huishoudelike) vullis ontslae moet raak nie. Gemors waai die wêreld vol, omrede die vullishouers oorloop en nie die hoeveelheid afval kan hanteer nie.
“Varke en honde moet in hierdie gebiede beweeg en selfs kinders speel in die gemors en word aan die skadelike uitwerking daarvan blootgestel.
“Dit is nie reg nie. Iets moet aan die saak gedoen word. Ek is persoonlik bewus van gesprekke wat gevoer is en oproepe wat gemaak is om te vra vir nog ’n paar vullishouers, maar tot vandag toe het ons geen terugvoering gekry nie.”
Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) se woordvoerder, Hannelie Botha, het op navrae gereageer.
“Vullis lê rond weens onwettige storting en rommelstrooiing. Dit is wel moontlik dat vullis van die stortingsterrein kan oorwaai, maar dit is gewis nie die enigste rede nie. Dit word gereeld deur die EPWP-spanne skoongemaak. Worcester se sterk wind bemoeilik opruiming – veral in Avianpark en Johnsonspark se baie oop ruimtes waar onwettige storting gereeld plaasvind. Sodra die BVM dit verwyder, word rommel maar net weer onwettig gestort.”
Botha sê alle gebiede in die Breedevallei word minstens een keer per week skoongemaak. “Daar is ook ’n herwinningsaanleg langs die stortingsterrein waar herwinbare afvalmateriaal versamel en sorteer word. ’n Rukkie gelede is aflaai-stasies ten duurste in verskeie gebiede gebou. Menige van hierdie stasies is egter gevandaliseer.
“Die publiek moet asseblief hul samewerking gee om onwettige storting van vullis aan te meld sodat ons almal saam ons omgewing kan skoon hou.”




