Ek is nie een vir presente en dié dinge nie. Inteendeel. Ek sal liewer enige tyd gee in plaas van ontvang.
Net nou die dag het ek ’n reusebeesboud in biltonge opgesny en opgehang om droog te word.
En voordat selfs my kinders ’n stukkie hiervan kon kry, het ek dit klaar onder my vriende, en selfs vreemdes, uitgedeel.
Dus was verjaarsdae en Kerstyd nog altyd vir my meer van ’n verleentheid as iets anders. As iemand vir my iets gee, bloos ek gewoonlik rooier as Vader Krismis se rooi gewaad.
Maar gee wil ek.
My vriende en familie sê altyd as ek die Lotto moes wen, sal die miljoene vinniger verdwyn as die tyd wat dit my geneem het om die kaartjie te koop. En boonop sal ek persoonlik niks te wys hê daarvoor nie – net vreugde in die hart.
Juis as kind het ek een jaar voor sonop een Kersoggend wakker geword kort nadat Kersvader by die skoorsteen afgeseil het om ons geskenke onder die helder versierde boom te plaas.
Ek was weer eers skaam dat daar ’n pakkie met my naam op onder die Kersboom was, terwyl ek nie eens ’n briefie vir Vader Kersfees geskryf het nie.
Maar ek het ’n ander plan gehad.
Met die fraaie pakkie onder die arm het ek by die venster uitgeglip terwyl my ma-hulle nog geslaap het, en by die straat af gestap na die verwaarloosde huisie op die hoek.
My pa was altyd so vererg deur die deurmekaar flenterhuis, wat hy gesê het ons buurt so ontsier.
Hier het ’n seuntjie gewoon; ek dink sy naam was Paul. Hy was so ’n jaar of wat jonger as ek, en as ek van die skool af verby sy huis gestap en gegroet het, het hy net grond toe gekyk en onsigbare klippe geskop.
Sy klere was maar altyd ’n paar groottes te klein vir hom, en dikwels was daar iewers op sy gesig ’n blou kol.
Die kere dat ek wel vir ’n oomblik in sy oë kon kyk, het ek reeds op daardie jong ouderdom agtergekom dat daar ’n groot hartseer asook verlange in daardie amandelgroen oë skuil.
Ons het uiteindelik gehoor dat sy ma baie jare vantevore weggeloop het en dat sy pa by die rioolwerke daar heel onder in die dorp gewerk het.
Laataand kon jy die V6-enjin van sy pa se Valiant hoor as hy by die huis kom – van waar af weet ek nie.
En soms, baie laat in die nag, kon ek uit my slaapkamer hoor hoe ’n diep stem brul en raas, en die geluid van goed wat rondgegooi word en glas wat breek. En soms het ek my verbeel dat ek die naam Paul tussendeur die rumoer kon hoor.
Dus het ek daardie Kersoggend besluit dat ek my geskenk op Paul se drumpel gaan los. Niemand sou weet dat ek my present weggegee het nie, en my pa-hulle sou net dink dat Kersvader besluit het dat ek nie ’n Kersgeskenk verdien het nie.
Dit sou my in elk geval gered het van daardie ongemaklike geblosery later die oggend.
So is ek met die pienk pakkie by die straat af. Ek het nie geweet watter slaapkamer Paul s’n was nie.
Stadig sluip ek om die huis en by die eerste venster waar ek kom, hoor ek ’n bulderende gesnork, en ek weet sommer dadelik dat dit Paul se pa is.
Uiteindelik kry ek Paul se kamer en met die maan wat effens deur die gordynlose gekraakte ruit skyn, sien ek sy stil figuur op ’n geroeste ysterkatel sien lê – nie eens ’n kussing onder die kop nie.
Die venster is effens oop en ek skuif die ruit nog verder oop om die pakkie op die vensterbank te plaas. Paul wikkel effens in sy bed met die skuifgeluid, maar gelukkig slaap hy verder.
Daad gedoen, sluip ek terug na my huis met ’n lied in my hart.
My ouers was taamlik verward dat daar nie ’n geskenk onder die boom vir my was daardie oggend nie, maar ek het vinnig verduidelik dat daardie jaar nie my beste was nie, en klaarblyklik het ek niks van Kersvader af verdien nie.
Later die dag speel ek en my broer met sy splinternuwe Springbok-rugbybal in die straat.
Die hoek van my oog vang Paul onder in die straat. Weer het hy ’n verflenterde kortbroek aan en loop hy kaalvoet. En al bak Desember se Paarl-son al behoorlik, dra hy ’n helder groenkleurige trui met Paddington Bear daarop. Paddington was my gunstelingkarakter as kind.
Jaloesie het deur my are geloop, so mooi was die trui, maar toe ek verder opkyk na Paul se gesig, was daar vir die eerste keer ’n glimlag daarop en ’n sprankel in sy oog wat my verwelkom het.
Stadig stap hy na ons toe en my broer gooi vir hom die rugbybal.
“Kyk” sê hy, en hy wys na sy trui. “Kyk wat het my ma my vir Kersfees gegee.”





