Die Christen Gemeentes kerk in Mossiestraat, Avianpark, vier vanjaar 10 dankbare jare in sy huidige gebou.
Die kerk is trots op die opheffing van die gemeenskap en geestelike berading wat hy aan die gemeenskap lewer.
Volgens Adam Williams, woordvoerder van die kerk, bedank hulle eerstens die Hemelse Vader. “Ons bedank ook ons borge en gemeentelede vir die ondersteuning om al 10 jaar in die gebou te wees,” het Williams gesê.
Pastoor David Pieterse sê die kerk is in 1933 gestig. “Twee voltydse teoloë is uitverkies deur die Here se Heilige Gees om leiding te neem en die kerk te stig. Die kerk het so uitgebrei dat dit vandag nasionaal en internasionaal is. Ons kerk het ’n ryk geskiedenis wat oor baie jare strek en ons verkondig die evangelie aan die hele wêreld. Ons kerk sê hy is reg, maar nie alleen reg nie,” sê Pieterse.
“Die gemeente in Worcester het in die 1950’s ontstaan, maar daar was destyds nie ‘n gebou nie, maar ons is nou al 10 jaar in die huidige gebou. Ons plaaslike kerkraad in Worcester, De Doorns en Robertson bedank graag vir pastoor David Pieterse vir sy insette om leiding te gee om die kerkgebou tot stand te bring,” vertel Williams.
Volgens Williams is hulle baie opgewonde oor die kerk se toekomsplanne. “Die idee is om volgende jaar ’n gemeenskapsprojek op die been te bring vir ’n voedingskema vir behoeftiges in die omliggende gebiede en ons nooi betrokke rolspelers om in te koop in die projek,” sluit Williams af.
Rig enige navrae aan Pieterse by 073 175 6061 of Williams by 073 145 5644.




