Keisha NeethlingFoto: Stephan Neethling


Keisha Neethling gaan al van sewejarige ouderdom af dans-dans deur die lewe en het nog nooit teruggekyk nie.

Hierdie talentvolle ballerina, ’n gr. 7-leerder by Victoriapark Primêre Skool in Worcester, het onlangs die nuus ontvang dat sy saam met ervare ballerinas van Cape Town City Ballet in ’n ballet genaamd Excerpts of Coppélia gaan deelneem.

Coppélia is ’n bekende liefdesverhaal wat tydens die laat 1800’s vir die eerste keer opgevoer is – in Parys, Frankryk, waarna dit gewild geraak het en in talle opera-huise oor die wêreld heen te sien was.

Volgens Keisha is ballet haar passie en sy skaaf en skuur gereeld daaraan om te verbeter.

Haar definitiewe gunsteling-danspassie is die “split” omdat dit heelwat dissipline verg, maar ’n groot beloning is wanneer ’n ballerina – in dié geval Keisha – dit bemeester.

Volgens Keisha se ma, Jo-Ann Neethling, ’n verpleegkundige by die Mediclinic Worcester, was haar dogter reeds van ’n vroeë ouderdom soepel en sy het ook gimnastiek beoefen, wat gewis ’n bydrae tot haar suksesvolle ballet-loopbaan gelewer het.

Keisha woon tans die Erika Rabie ballet-skool by, waar sy reeds ’n geruime tyd dans, en is ook tydens een van haar oefensessies gevra of sy, sowel as ander leerders, aan die Excerpts of Coppélia-ballet wil deelneem.

Dié junior ballerina het die geleentheid met ope arms aangegryp en as deel van haar voorbereiding beskou om eendag internasionale gehore as ’n professionele balletdan­ser in vervoering te neem.

Jo-Ann verduidelik verder dat haar dogter pligsgetrou twee keer per week by Erika Rabie asook op haar eie oefen. Sy sien ook goed na haar gesondheid om deur ’n gebalanseerde dieet te volg.

Keisha sal in twee tonele in Excerpts of Coppélia te sien wees, naamlik “Village girls” en “Coppélia dolls”. Kaartjies vir Excerpts of Coppélia is beskikbaar by Webtickets by https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1524961216

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article