Kehara Kariem is haar skool, en elke vak van haar, se toppresteerder. Foto: Tamsyn Jantjies


Kehara Kariem kan nou nog nie glo dat sy soveel trofeë en sertifikate by hul skool se onlangse prysuitdeling ontvang het nie.

Sy is Victoria Park Primêre Skool se hoofmeisie en het altesaam 23 trofeë en 24 sertifikate by die geleentheid ontvang.

“Dit het nog nie ingesink nie,” sê dié borrelende dog bedeesde 13-jarige meisie.

Verder sê sy sy het nie verwag om soveel toekennings op die betrokke aand te kry nie.

“Ek het gedink ek gaan een of twee trofeë of sertifikate kry. Ek het dit regtig nie verwag nie.”

Maar sy bieg ook dat sy haar alles aan haar skoolwerk gegee het en dat sy baie hard gewerk het die afgelope jaar.

“Ek het my alles gegee hierdie jaar. Ek het ook meer begin glo in myself en ons Hemelse Vader en ek het my volle vertroue in Hom gesit.

“Dit is net deur sy genade dat ek hierdie groot prestasie kon behaal,” sê Kehara.

Sy vertel ook dat die oomblik so effens te groot vir haar geraak het toe al haar prestasies gelys is.

“Lateraan was ek baie bewus van hoe almal vir my kyk en hoe van die mense geskokte uitdrukkings op hul gesigte gehad het en hoe hulle later self my naam begin roep het. Dit het gevoel soos te veel aandag in een oomblik vir een mens.

“Maar tog was ek ook baie trots op myself in daardie oomblikke toe ek benoem is as die ontvanger van al hierdie trofeë en sertifikate.”

Vir elk van haar nege vakke het sy die prys vir uitstaande akademiese prestasie ontvang, asook addisionele wisseltrofeë vir die vakke se uitblinkers.

Sy gaan haar hoërskoolloopbaan voortsit by die Hoër Tegniese Skool Drostdy (HTS Drostdy) en sien vreeslik uit daarna.

“Ek dink ek gaan sommer nog baie die laerskoollewe mis volgende jaar. Maar ek sien ook uit om aan die verskeie sportsoorte, veral netbal, deel te neem en op sporttoere te gaan, asook om akademies nog prestasies te behaal. Ek dink ek sal ook dalk weer op hoërskool die hoofmeisie wil wees,” sê sy baie opgewonde en met ’n sprankel in haar oog.

Wanneer sy nie besig is om te leer, te hersien of huiswerk te doen nie, geniet Kehara dit om flieks en reekse op Netflix te kyk, of te lees, of om skoon te maak, want sy waardeer dit as dinge alles in orde en op hul plek is.

Vir ander kinders wat graag ook akademies wil presteer, het sy die volgende raad: “Almal se sukses kom nie op dieselfde tyd nie. Sukses wissel van persoon tot persoon. Jy moet op jou eie sukses fokus en nie ander dophou nie. Sit jou volle vertrou in God en doen net jou beste, die res sal alles vanself in plek val.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article