Die Kavaliers-span het hul getroue ondersteuners in Wellington se Boland-stadion na afloop van hul vierde agtereenvolgende oorwinning vanjaar bedank. Foto: Reggie Fotografie

Credit: SYSTEM

Die Boland Kavaliers het Saterdag (4 Maart) hul onoorwonne status behou toe hulle die Olifante van Gqeberha met 26-17 in die Boland-stadion geklop het.

Die oorwinning beteken Boland sal op 24 Junie op sy tuisveld in die eindronde speel.

Die Kavas het in die 20ste minuut danksy pragtige afronding deur Dylan Maart die voortou geneem. Connor Mahoney het minute later die tuisspan se tweede drie gedruk en beide is deur die losskakel, Feghan-Leigh Snyders, verdoel.

Onverdoelde drieë (Cameron Hufke vir Boland en Jayden Bantom vir OP) net voor halftyd het die telling op 19-5 in die guns van Boland gelaat.

Die Olifante het die tweede helfte die sterkste begin met ’n drie deur Andur-Rageem Ismail, en toe Aya Oliphant wat ook agter die pale gaan kuier het. Met die telling op 19-17 sou niemand kon voorspel wat volgende gaan gebeur nie.

Die skeidsregter, Sean Muller, se geelkaart het toe die praatwerk begin doen. Vier Kavaliers is in net vyf minute koelkas toe gestuur – eers Wayrin Losper, toe Charles Nimb en Thurlow Marsh, gevolg deur Keenan Opperman. Dit het gelyk of die skrif aan die muur was, maar met wat beskryf kan word as karakter van ’n ander kaliber het die Kavaliers met net 11 spelers op die veld die Olifante sonder verdere punte platgetrek. (Die breier, Franzel September, het dit ná die stryd as Goddelike ingryping beskryf.)

Met al die manne terug op die veld kon die Kavas weer op die aanval kom en ’n drie in die 78ste minuut deur Darian Hock, wat Hufke verdoel het, was die nou beroemde bonuspunt-oorwinning van 26-17 verseker, sowel as ’n plek in die indronde, wat op 24 Junie in die Boland-rugbystadion in Wellington beslis sal word. . Die seëvierende Boland Kavaliers reis hierdie naweek na Potchefstroom waar hulle die Luiperds in die laaste ronde van die kompetisie sal pak, voordat die Mzanzi Challenge op 25 Maart teen die Diables van Spanje afskop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article