’n Inwoner van Worcester is in rou gedompel ná die onlangse “moord” op haar geliefde troetelkind, nadat haar kat vermoedelik met ’n windbuks geskiet is en later in haar arms gesterf het.
Drieka Burger (53) het sowat ses jaar gelede haar gemmerkat, Ginger, van ’n vriendin in die Paarl gekry nadat haar vorige kattekind, Daisy, aan ’n hartaanval oorlede is.
Burger kon nooit kinders van haar eie kry nie en beskou haar katte en honde as haar kinders. Maar op Woensdag 9 November moes sy met ’n swaar hart afskeid neem van haar jongste.
“Ek het so net ná 21:00 in die sitkamer gaan sit en wou iets op die televisie kyk. My man, Pierre, werk nagskof en sommige aande sit ek tot laat en televisie kyk. Ek het agtergekom Ginger is nie in die huis nie en het die een venster in die kombuis oopgehou vir as sy terugkeer. Dit gebeur gereeld.
“Hierdie keer het sy egter nooit teruggekom nie,” vertel ’n emosionele Burger aan Standard.
Net voor Burger haar televisie aangeskakel het, het sy gehoor hoe een van haar katte vreeslik om hulp skreeu.
“Ek het gedink dit is my ander kat, Spikkels, wat gereeld in die tuinhekkie vassit, maar by nadere ondersoek het ek vir Ginger op die sypaadjie hoor huil. Dit het al erger geraak.”
Toe Burger die tuinhekkie van haar erf in Rouxpark oopmaak, het sy haar geliefde Ginger in ’n opgekrulde, bebloede bol gekry.
“Dit was aaklig. Ek het die bloed gesien en op my knieë gesak. Ek wou net help, maar het nie geweet hoe nie.
“Ek kon duidelik sien dat sy geskiet is, maar al wat ek kon doen, was om haar vas te hou. Dit was nie ’n minuut nie, toe het haar koppie net gehang. Ek is ten gronde,” vertel Burger.
Burger het op haar straat se WhatsApp-groep gevra of enigeen iets gesien of gehoor het, maar tot dusver is daar geen antwoord nie.
“Ek wil net weet wie dit was. Wie sal ’n onskuldige katjie enige skade aandoen? Wie kan so wreed wees? So ’n persoon moet aanspreeklik gehou word vir sy dade.”
Die Worcester-polisie het aan Standard bevestig dat so ’n voorval aangemeld moet word aangesien dit die landswette oortree.
Die wet stipuleer duidelik dat geen geweer in ’n dorpsgebied afgevuur mag word nie, tensy dit gedurende ’n voorval geskied waar selfverdediging toegepas word.
Enigeen met inligting kan vir Burger kontak via e-pos by dburger05@gmail.com


