Dit blyk die lang rye – en geen antwoorde op herhaaldelike navrae by die arbeidskantoor in Worcester – is iets waarmee inwoners sal moet vrede maak.
’n Inwoner het Standard genader om meer uit te vind oor wat presies by die arbeidskantoor in die dorp gebeur omdat mense gereeld ure moet wag voor hulle gehelp word.
Volgens die besorgde inwoner is die kantoor [arbeidskantoor] nog meer haglik as dié van die kantoor van binnelandse sake.
“Afgesien van mense wat tot sewe ure wag om gehelp te word, is dit ook hoogs onhigiënies – daar is geen vullisdrom nie en rommel word rondgestrooi,” voer die inwoner aan.
Sy sê selfs by die kantoor van binnelandse sake is daar ’n mate van organisasie waar mense soms buite gevra word waarvoor hulle daar is en of hulle die regte dokumentasie het. Sy sê by die arbeidskantoor is daar geen organisasie nie, mense staan vir ’n dag daar net om dan ingelig te word dat hul dokumentasie nie reg is nie.
Standard het verlede week navraag aan die kantoor gestuur, maar het geen antwoord ontvang nie.
Met Standard se besoek aan die kantoor Dinsdagoggend was daar reeds ’n lang ry mense buite die kantoor. By navraag by die persoon wat die vorms aan mense oorhandig, het sy ons na ’n persoon binne die kantoor verwys.
Binne die kantoor was sowat 30 sitplekke waarvan slegs 10 in gebruik was. Die ander sitplekke was gemerk sodat mense nie daar kon sit nie. Een beampte het vir die sekerheidswag geskree dat sy net ’n paar mense gaan help, want sy gaan 13:00 vir middagete.
Een van die beamptes het Karen Fuller, die waarnemende bestuurder, se e-posadres aan die koerant bevestig en ’n opvolg-e-pos met die volgende vrae is aan haar gestuur, maar geen antwoord is ontvang nie:. Is daar ’n tydperk wat mense moet wag voordat hulle hul WVF-voordele kry? Wat is die proses?. Watter dokumente moet mense hê wanneer hulle by die arbeidskantoor aansoek gaan doen vir WVF-voordele?. Hoeveel mense kan die arbeidskantoor in Worcester per dag akkommodeer?. Waarheen kan mense hul klagtes, wat hulle oor die arbeidskantoor het, stuur?
Dit is nie die eerste keer dat herhaaldelike navrae deur Standard aan die arbeidskantoor gestuur word, en geïgnoreer word, nie.


