Die groep kampeerders uit die Kaap kort voordat hulle hul kampterrein moes weens stygende water van die Smalblaarrivier ontruim.Foto:


WORCESTER – Swaar reënneerslae in die Breederivier-gebied die afgelope naweek – weer ’n keer – het ’n groep hondeliefhebbers se kampeeruitstappie kortgeknip toe stygende water hul veiligheid bedreig het.

En hoewel dit ’n senutergende ervaring was, het die kampeergroep, verbonde aan ’n honde-opleidingskool, nou ’n storie van ’n leeftyd om te vertel.

Hulle het die afgelope Donderdagmiddag by die Altydwater-kampterrein naby Rawsonville aangekom vir ’n langnaweekuitstappie wat ook as honde-opleidingskamp gedien het. Hulle het by die pragtige kampterrein op die oewer van die Smalblaarrivier gekamp.

Die groepie het uit 22 hondeliefhebbers asook 14 honde wat die naweek opleiding sou ontvang, bestaan.

Maar omstreeks eenuur die volgende oggend is hul kampnaweek erg ontwrig.

“Daar was ’n klop aan ons deur. Die eienaar van die kampterrein het ons gewaarsku: “Daar is baie meer reën as wat voorspel is; die water moet nog van die berg afkom. Die rivier kan dalk oorstroom. Hou die watervlak dop en wees gereed om op te pak,” het een van die kampeerders, Belinda Liebenberg, geskryf.

Die hele kampgroep was toe op en wakker om die situasie te monitor. Iemand het ’n voertuig in die rigting van die rivier gedraai sodat die kopligte die rivier kon belig. Hulle kon sien hoe vinnig die water styg.

“Nie eens 20 minute later nie skreeu iemand vir ons: “Pak op, hier kom moeilikheid! Die kampeerplek het begin oorstroom.

“Ons het eers die honde beveilig en toe begin om alles wat ons kon met die hulp van mede-kampeerders in ons groep in die kampeerwa te laai.

“Ons moes ’n tent letterlik inderhaas net so by die heuwel langs die rivier optrek asook met ’n groot gesukkel ’n kampeerwa teen die baie nat helling opkry.”

In die gietende reën, met almal nog in hul slaapklere en sommige sonder reënjasse, het almal saamgespan om te help pak. Hulle kon sien hoe vinnig die rivier styg.

“Dit was ’n groot spanpoging van almal op die kampterrein om onsself, ons gesinne, ons honde en ons besittings na veiligheid te bring.

“Dit was nie aangenaam nie, maar is gewis ’n onvergeetlike ervaring. Wat die meeste uitgestaan het, was hoe ons almal in daardie moeilike situasie gehelp het en na mekaar se veiligheid omgesien het.

“Dankie aan almal wat die Wayne Wilson-hondeopleidings­kamp bygewoon het; julle is ’n wonderlike groep – letterlik, in reën of sonskyn!

“Dankie dat julle onselfsugtig was en mekaar gehelp het.

“Ek is dankbaar dat ons almal betyds veilig uitgekom het, al het ons koud en nat tuis aangekom.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article