“Nee, ou seun, hierdie Chinese tentpenne gaan
nie werk nie,” sê ’n ou man met ’n vuil baard voordat hy sy jong seun nader roep
om regte tentpenne te gaan haal.

Dit is my en Liefie se eerste
kampeer-probeerslag en, soos met vele eerste kere, moes iets iewers
verkeerdloop.

Ons het vroegoggend die motortjie gelaai, met
koffieflessie reg, en daar vertrek ons in die rigting van Mosselbaai. Tent,
slaapsakke, opblaasmatras, kampyskassie, vleis, kos en drank alles in.

Met ons aankoms by die kampterrein kom ons
agter ons weet glad nie hoe om die tent op te slaan nie. Maar ek is ’n man, ons
vra mos nie vir hulp nie.

Sowat ’n uur later besluit Liefie genoeg is
genoeg en sy gaan roep ons behulpsame kampbuurman, Oom Mario.

Nadat oom Mario sy seun gestuur het om vir ons
regte tentpenne te gaan haal, slaan hy die tent in twee minute op.

“Kan sy lekker braaibroodjies maak?” vra die
oom my en beduie in Liefie se rigting.

“Baie, lekker,” antwoord ek hom vinnig. “Wel,
jy weet wat hulle sê van trouman soek, dame? Wel, hy moet ’n tent kan opslaan,”
sê hy met ’n knipoog in my rigting.

Ek kan darem braai, dink ek by myself. Die
eerste aand waai die wind amper ons goedkoop tentjie weg. Die ander kampeerders
kom vra ons die volgende oggend of ons nag een oorleef het in ons tent.

“Ja natuurlik,” antwoord ons.

Teen dag twee kom daar ’n groot storm en ons
besluit die middag dat om te braai, nie gaan werk nie. Ons gaan uiteet.

Dit reën daardie aand baie hard. Die
opblaasmatras ontwikkel ’n lekkasie en ons slaap die hele nag op die grond, in
die reën.

Die volgende oggend is dit weer dieselfde vraag
van die kampeerders en ek frons liggies terwyl ek sluk aan my warm koppie
koffie.

Teen dag drie stel ’n ander kampeerder voor dat
ons ons motortjie voor die tent parkeer om die wind te keer. Daai aand draai die
wind.

Die volgende oggend kry een van die kampeerders
ons so jammer dat sy vir ons ’n stuk koek bring.

Shame, oorleef julle nog in die
tent?”

Ek sit en wonder wat fout is met ons tent dat
almal dit vra. Die kampeerdery staan einde se kant toe, dit is die laaste dag en
dit raak tyd vir oppak.

Afslaan is makliker as opslaan, het ek al
gehoor, maar ek weet nie hoe waar dit is nie. Ons sukkel om alles in die
motortjie gelaai te kry en die tent wil glad nie in sy sak terug nie.

Ons sit en kyk vir die son wat vir oulaas oor
die Indiese Oseaan opkom. Eendag gaan ons vir ons kinders hierdie storie
vertel.

Ek dink aan Oom Mario wat lankal terug is huis
toe en sy tentpenne vir ons verniet gegee het.

“Nee, ou seun, hierdie Chinese tentpenne gaan
nie werk nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article