Die toekoms lyk donker met kragdiewe wat gedurig op veral munisipale infrastruktuur toeslaan.Foto: Ter illustrasie


Die verskillende munisipaliteite in die streek sukkel voortdurend met kabeldiefstal asook die uitwerking daarvan – veral die groot uitgawes wat daarmee gepaard gaan.

“Kabeldiefstal het ’n groeiende kommer in die Langeberg- munisipale gebied geword. Hierdie misdadige aktiwiteit het onlangs toegeneem, met ’n verbysterende 36 aangemelde voorvalle van kabeldiefstal wat die afgelope paar maande aangemeld is.

“Die gevolge van hierdie diefstalle het nie net die gemeenskap beïnvloed nie, maar ook dienslewering deur die munisipaliteit.

“Uit die 36 aangemelde voorvalle vanjaar is slegs een mens in hegtenis geneem, wat die uitdagings beklemtoon waardeur wetstoepassers in die gesig gestaar word om die skuldiges vas te trek,” skryf Willy-John Gordon, ’n woordvoerder van die Langeberg-munisipaliteit, in ’n mediaverklaring.

Hy maak ook melding van die feit dat kabeldiefstal ’n groot finansiële invloed op die munisipaliteit het.

“Die uitwerking van kabeldiefstal syfer deur die munisipaliteit se infrastruktuur en dienste. Die finansiële tol is groot aangesien die munisipaliteit gedwing word om aansienlike bedrae geld te bewillig om gesteelde materiaal te vervang en vir oortyd-arbeid te betaal om die skade te herstel.

“Gevolglik word noodsaaklike dienste, wat die munisipaliteit aan die inwoners verskaf, deur vertragings en onderbrekings in die gesig gestaar.”

Volgens die Breedevallei-munisipaliteit bestee hy jaarliks ’n geraamde R5 400 000 aan die vervanging van gesteelde kabels.

In Worcester word gebiede soos Zwelethemba, Avianpark, Roodewal en Riverview hoofsaaklik deur kabeldiewe geteister. Hulle meld ook dat drie tot vyf persele per dag deur kabeldiefstal geraak word.

Die Langeberg- sowel as die Breedevallei-munisipaliteite sê hulle begin nou in plaas van koper eerder aluminium gebruik wanneer hulle herstelwerk doen.

“Weens die vandalisering van munisipale infrastruktuur en koperdiefstal in die munisipale gebied gebruik die munisipaliteit aluminium pleks van koper om gesteelde kabels te vervang.

“Die elektrisiteitsafdeling het reeds ’n projek aangepak om oorhoofse koperkabels met aluminium te vervang. Die rede waarom aluminiumkabels gebruik word, is dat daar min tot geen mark vir aluminium is nie, in teenstelling met koper wat ’n markwaarde 10 keer hoër het. Dit is ’n poging om infrastruktuurvandalisme te voorkom, diefstal te keer en om voort te gaan om kostedoeltreffende dienste aan inwoners te lewer,” verduidelik Gordon.

John Bulani, ’n woordvoerder van die BVM, noem ook aluminium in sy korrespondensie met Standard & Gazette.

“Die vervanging van ondergrondse kabels word gedoen met addisionele beskerming van staalpype.

“Daar is ook verdere toekomsplanne vir die vervanging van koperkabels met aluminiumkabels, asook die vervanging van oorhoofse kabels met aluminium bondelgeleiers.”

Verskeie inwoners van Wolseley kla ook die laaste ruk gereeld oor kabeldiefstal in die dorp. Volgens die Witzenberg-munisipaliteit loop die hele Witzenberg- munisipale gebied onderhewig onder kabeldiefstal deur.

“Ons vervang die kabels soos dit aangemeld word. Die munisipaliteit het in die afgelope jaar al meer as R2 miljoen as gevolg van kabeldiefstal en vandalisme bestee,” verduidelik Rowena Hendricks, ’n woordvoerder van die munisipaliteit.

Sy noem ook hulle het ’n toename in aangemelde klagtes bespeur.

“Ons ontvang daagliks kabeldiefstal- klagtes; dit is reg deur die Witzenberg-omgewing.

“Ons het ook ’n toename waargeneem in aangemelde klagtes as gevolg van kabeldiefstal, wat ure kan neem om aandag te kry, afhangende van die skade wat aangerig is en die hulpbronne wat nodig is om die kragtoevoer te herstel.”

Die munisipaliteit is egter onseker of enigeen al die afgelope jaar weens kabeldiefstal in hegtenis geneem is.

“Een ding wat ons weet, is dit is altyd maklik om voorvalle aan te meld, maar niemand is gretig om die skuldiges aan te meld nie.

“Ons doen deurlopend inspeksies en patrolleer gebiede, maar ongelukkig kan ons nie terselfdertyd op alle plekke wees en steeds betyds op ander bedryfstake reageer nie.

“Gevolglik raak dit ongelukkig nie net die middestad nie, maar ook die kabelvervanging-uitgawes en die verhoogde veiligheidsdienstekoste wat aangegaan word om die sleutelpunte van die netwerk te beveilig.

“ ’n Eskom voorsiende gebied tussen Tulbagh en Wolseley is onlangs geteiken. Dit lei tot lang ure se kragonderbrekings wat nie net ongerief vir Eskom-kliënte skep nie, maar finansiële skade vir sake- en residensiële kliënte.”

Vyf mense is verlede naweek in twee afsonderlike voorvalle op die N1 by Laingsburg weens die besit van koperdraad in hegtenis geneem.

Om kabeldiefstal by die afsonderlike munisipaliteite aan te meld, skakel die volgende nommers:. Langeberg-inbelsentrum: 0860 88 1111 . BVM – vir alle openbare klagtes: 0860 121 212.. Witzenberg-beheersentrum: 023 316 1997/8 of 072 851 8294 of 072 852 2362.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article