Die junior stadsraad vir die termyn 2023-’24.Foto: JP Myburg


Vooraanstaande inwoners van die dorp het Vrydagaand (5 Mei) tydens ’n spoggeleentheid bymekaargekom om die nuwe junior stadsraad vir die 2023-’24-termyn in te huldig.

Die junior stadsraad is een van die grootste nie-winsgewende inisiatiewe in die streek wat op die ontwikkeling van toekomstige leiers fokus.

“Ons doel is om verantwoordelike burgers te kweek en om toekomstige leiers te ontwikkel,” het Esmerelda Pekeur aan Standard gesê.

Pekeur is betrokke as projekbestuurder by hierdie inisiatief, wat gedryf word deur Chipros (Community Help and Information Project of Students) wat in 2007 deur Charles Beukes gestig is.

Tydens Vrydagaand se verrigtinge het ’n volgepakte saal by Pionierskool hulde gebring aan die vorige termyn se raad en die nuwe stadsraad in hul nuwe posisies verwelkom.

“Dit is ons jaarlikse spoggeleentheid en hoewel beurtkrag ons probeer kniehalter het, het ons steeds daarin geslaag om dit suksesvol aan te bied.”

Van die gaste by die seremonie was dr. Alisha Narotam (junior burgemeester 2013-’14), landdros Pumeza Dyani en die burgemeesterskomiteelid Palesa Ramokhabi, wat ’n toespraak namens die burgemeester, Antoinette Steyn, gelewer het.

Die program het verskeie items gehad en die gaste is met interessante praatjies, terugflitse na die vorige termyn en musikale items vermaak.

Die jongelinge was egter gespanne vir die aankondiging, maar het ná die verrigtinge in goeie gees vir hul eerste amptelike fotosessie as die junior stadsraad vir 2023-’24 bymekaargekom.

“Ons bedank elkeen wat ’n bydrae gelewer het. Ons bedank die skole wat betrokke is en hul leerders gereeld aanmoedig om hulself beskikbaar te stel. Ons bedank ook die ouers wat altyd moeite doen met projekte. Dankie ook aan al die borge, ondernemings en almal wat op verskeie maniere by hierdie projek betrokke is,” het Pekeur bygevoeg.

Hoewel Steyn nie die verrigting as burgemeester kon bywoon nie, het sy haar gelukwensing aan die nuwe junior raad oorgedra.

“Baie geluk aan die nuwe junior burgemeester en die hele span vir die nuwe tydperk wat voorlê. Dit is nou die tyd waar julle elkeen saam aan julle toekoms en julle drome bou. Dankie aan Beukes en Pekeur, asook Elton Shortles en rdl. Ramokhabi, vir julle bystand. Baie geluk aan die onderskeie skole waar die leerders vandaan kom en baie geluk aan die ouers. Julle mag maar trots wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article