’n Skermgreep van Norris-Africa soos sy in Die Hulp verskyn.

Credit: SYSTEM

’n Plaaslike onderwyser vertolk die hoofrol in ’n televisiereeks wat onlangs vrygestel is.

Natasha Norris-Africa, ’n onderwyser by Worcester Sekondêre Skool, het so ampertjies nie haar oudisie-video aan die reeks se vervaardiger gestuur nie.

“Ek het gesukkel om hom in die hande te kry en het eers ná die spertyd my video aan hom gestuur. Maar tog het ek die rol gekry,” vertel sy.

Die reeks, Die Hulp, is gebaseer op ’n werk deur Annmaree Fortuin en handel oor ’n vrou wat in haar huwelik mishandel word en onder moeilike omstandighede haar uiterste bes doen om na haar kinders om te sien.

Vir hierdie juffrou is dit die heel eerste keer dat sy voor die kameras verskyn.

“Ek is die senior fase drama-onderwyser by die skool. Ek is gewoond daaraan om agter die skerms te werk en is nie regtig een vir die kollig nie. Ek was baie angstig omdat dit die eerste keer is dat ek ’n hoofrol vertolk, en omdat dit my eerste keer op so ’n groot produksiestel was.

“Maar ek het elke dag geleer, en ek het baie geleer,” sê Norris-Africa.

Sy is egter geen vreemdeling wanneer dit by produksies op groot verhoë kom nie. Vir tien jaar het sy en haar leerders produksies by die Artscape-teater vertoon en ook baie toekennings vir hul werk ontvang. Sy, tesame met haar leerders, het self ook die produksies geskryf.

Norris-Africa bieg ook dat haar rol in Die Hulp baie moeilik was vir haar, omdat dit iets is waarmee vroue daagliks moet saamleef.

“Daar is soveel vroue in ons gemeenskappe wat daagliks met mishandeling en geweld teen hulle moet saamleef. Ek wil hê diegene wat slagoffers in sulke huwelike veroordeel, moet sien hoe moeilik dit is vir hierdie vroue en dat dit nie altyd so maklik is om te ontsnap nie.”

Sy noem ook dat die emosionele aspek van die rol baie dreinerend vir haar was.

Voorts vertel sy van ’n oudkollega wat eintlik hierdie wêreld aan haar bekend gestel het.

“Lloyd Davids het my aan die diep kant van hierdie wêreld ingegooi, en ek sal hom ewig daarvoor dankbaar wees. Dit was regtig ’n geval van sink of swem, en hier swem ek steeds. Wat hy gedoen het, het baie deure vir my oopgemaak,” meen sy.

Die Hulp se eerste episode is beskikbaar by https://youtu.be/5kw1NwicwgY. Meer episodes is eersdaags beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article