Om deur ’n Franse rugbyklub raakgesien te word, is ’n groot erkenning van enige rugbyspeler se vermoë. En toe die voormalige Boland Kavallier, Chris van der Merwe, vir Jovelian de Koker in 2018 nader om sy loopbaan in Frankryk voort te sit – ná nog ’n briljante vertoning vir die Boland Kavalliers teen WP, wat by die Esselenparkstadion 24 elk gelykop geëindig het – het die losskakel nie gehuiwer nie. En nou het die gewilde speler na Esselenpark as sy nuwe tuisveld teruggekeer.
De Koker is ’n oud-leerder van Worcester-Oos Primêr en Worcester Gimnasium en kom uit ’n familie met ’n ryk rugbytradisie. Sy pa, Johan, was ’n gerespekteerde provinsiale speler vir SWD en Boland Rugby en het later ’n uiters suksesvolle klub- en provinsiale afrigter geword. Vir Jovelian was klubrugby in Frankryk ’n beslissende hoogtepunt in sy loopbaan, nadat hy die Kavas reeds in ’n indrukwekkende 50 wedstryde met onderskeiding verteenwoordig het.
Hy het dadelik ’n treffer in die noordelike halfrond geword, waar sy vermoë om deur duikslae te breek en drieë te druk, hom geweldig gewild gemaak het – ’n gewildheid wat hom terug hierheen gevolg het en waar hy ook al plaaslik gespeel het.
In Frankryk het hy die broodnodige morele ondersteuning van sy mede-Worcesteriet die Blou Bulle-speler en Springbok en nou ’n klubafrigter, Heini Adams, geniet. Heini is Cheslin, die Young Hamiltons-afrigter, se broer.
De Koker het Franse rugby as baie takties, tegnies en fisiek ervaar en het die voorreg gehad – iets waarvan die meeste rugbyspelers net kan droom – om saam met en teen internasionale spelers van Fidji, Samoa, Nieu-Seeland en Georgië te speel.
Ná vyf opwindende seisoene by Union Sportive Marmande het Jovelian in 2023 na Suid-Afrika teruggekeer en by Robertson RFC, die topspan in die Langeberg-streek, aangesluit. Hy was instrumenteel in die blou-en-wit truie se Top-12-sukses in 2023. Hulle het uiteindelik verlede jaar die Boland-titel verower.
Vanjaar keer Jovelian uiteindelik “terug huis toe, na Worcester”, om by die Blue Forever-span, Young Hamiltons, aan te sluit – baie jare nadat hy Worcester Villagers verlaat het toe hy deur Boland gekontrakteer is.
Hy sien uit na sy termyn by Esselenpark. Die “People’s Team” het die eerste keer sy aandag in 2018 getrek toe hy by afrigtingsessies voor sy vertrek na Frankryk betrokke was.
Die dissipline van die spelers, hul spelstyl en die legendariese ondersteuning van die getroue vir-altyd-blou–ondersteuners het hom beïndruk. Hy sien daarna uit om terug te ploeg in die rugbyontwikkeling van jongmense in die gemeenskap, waar hy blootgestel is aan die sport wat hom soveel pret, vreugde en plesier gebring het.
De Koker is getroud met Zhané en hulle het een baba.




