Joshwin Dyson reik na die sterre. Hy het die toekenning vir beste byspeler vir sy rol as Elvin in Old Righteous Blues by die onlangse Silwerskerm-toekennings gewen, die einste fliek wat in Oktober vanjaar as Suid-Afrika se Oscar-inskrywing gekies is. En boonop speel Old Righteous af in Robertson.
Aan die begin van November is hy boonop vir twee Aardklop-toekennings vir Ken Jy Vir Dewie? en Laaitie Mettie Biscuits benoem. En van 5 Desember speel hy in sy eerste Showmax Original-reeks, Spooksoeker, nadat dié reeks se rolverdeling-regisseur, die Safta-benoemde aktrise Ira Blackenberg, vir hom in Ken Jy Vir Dewie? by vanjaar se KKNK op die planke gesien en genooi het om te oudisie.
Spooksoeker is gegrond op die veelbekroonde François Bloemhof se topverkoper-boeke vir jong volwassenes, en volg die storie van Warno Alberts, wat met sy vyftiende verjaardag skielik van spoke in sy dorpie bewus raak – en dan besef dat hy die een is wat van hulle ontslae moet raak.
Dyson vertolk die rol van Allies, wie se vriendskap met Warno (Rico Immelman, ’n Tienertoneelkompetisie-finalis in 2023) sentraal tot die storie staan. “Allies het nie baie vrinne nie, maar sy beste vriend is Warno en hulle is baie close,” sê Dyson. “Hy is daai een vriend wat almal in hul lewe het, wat daar is vir jou. Die een wat alles sal doen om jou te beskerm, en baie lief vir jou is.
Dít blyk dan om belangrik te wees, synde dat Warno duidelik beskerming nodig het. “Allies het ’n baie spesiale talent, as ’n mens só kan sê,” vertel Dyson. “Hy kry visioene van dinge wat gaan gebeur.”
Allies word deur sy ouma, vertolk deur die Safta-wenner June van Merch (Hans Steek die Rubicon Oor, Sara se Geheim, Die boekklub), grootgemaak.
“Allies se ouma was ook vir baie jare in die besigheid van spoke, maar sy wil nou niks daarmee te doen hê nie,” sê hy. “Maar nou is haar kleinseun betrokke . . .
Dyson is 22, terwyl Allies ’n 15-jarige hoërskoolleerder is. Maar hulle het nogtans baie raakpunte.
“Allies is een van daai leerders wat sy werk doen, en ek het ook altyd my werk gedoen. Hy is baie lief vir sy vriende, en hy is baie lief vir sy ouma en hy sal hulle voor homself plaas, want hy gee baie, baie om vir hulle. Ek kan myself daarmee vereenselwig.
“Ek dink nog iets wat ons deel, is hoe passievol ons is oor dinge waarvoor ons lief is. Hy is baie passievol oor enigiets wat hy aanpak, al is hy ’n bietjie bang. Soos die reeks vorder, sal die kykers sy reis meemaak en sien hoe braaf hy word.”
Sommige dele van sy karakter was egter moeiliker om vatplek aan te kry. “Allies is ’n geeky ou; hy ontwikkel apps vir hom en Warno om op te speel. En nie dat ek dom is nie, maar Allies is baie slim,” sê hy laggend. “Ek ontwikkel nie apps soos hy nie; ek het geen benul hoe om dit te doen nie. En ek kry ook nie visioene nie.”
Nog ’n sleuteverskil tussen hulle is hoe baie Allies in sy kop leef. “Voordat hy enigiets doen, dink hy eers,” sê Dyson. “Hy’s baie skepties oor alles.”
Dyson vertel dat Spooksoeker soms meer uitdagend as Old Righteous Blues was. “Met televisiewerk, soos Spooksoeker, is dit meer uitdagend om op die storie te fokus, want dit word verdeel in episodes met verskillende storielyne,” sê hy. “So somtyds skiet jy ’n toneel uit episode 2 en dan is die volgende toneel uit episode 11. So dit is baie meer uitdagend om jou fokus te behou. Wat ’n fliek betref, is dit effens makliker, omdat dit een storie is.”
Nog ’n uitdaging was om die gate in te vul wat vir die uitgebreide visuele effekte gelaat is. Dié werk word deur Fox and Wizard behartig, en word gelei deur Jonathan Alenskas, wat vir ’n Visual Effects Society-toekenning vir sy werk op Warrior benoem is. Hy het ook gewerk aan reekse soos Plan B, The Gilded Age, The Marvelous Mrs. Maisel, asook die fliek Blue Jean wat die gehoortoekenning by die Venice-filmfees gewen het.
“As ’n akteur moet jy jou verbeelding gebruik, maar met hierdie was dit soos ’n hele paar vlakke op!” vertel hy laggend.
Glo hy aan spoke nadat hy in ’n reeks soos Spooksoeker gespeel het? “Dis so ’n eenvoudige, maar tog so ’n gekompliseerde vraag,” antwoord hy laggend. “Uhm . . . Ek sou sê, ja, en nee. Want soms in die aande is ek bang om in die donkerte in my huis te loop, maar ander aande is ek braaf. So ek sou sê, ja, en nee.”. Kyk die lokprent: https://youtu.be/vk9Id75D_eg




