Die minister van polisie, Senzo Mchunu, het onlangs die misdaadstatistieke vir April tot Junie 2024 bekendgemaak.
Hoewel daar positiewe ontwikkelinge is, bly Suid-Afrika steeds een van die lande met die hoogste misdaadsyfers ter wêreld, sê Ian Cameron, ’n DA-woordvoerder en LP, oor die polisie.
Cameron het die volgende uitgewys:
gebiede van kommer:
. Geweldsmisdaad teen vroue en kinders: Jaarlikse moorde op vroue het met 8,6% gestyg, en op kinders met 7,5%. Poging tot moord op kinders het skerp gestyg, met 33,7%.
. Stygende kommersiële misdaad: ’n 18,5%-toename dui op groeiende afpersingsaktiwiteite landwyd. Die DA het onlangs sy Plan teen Afpersing bekendgestel om dit aan te pak;
. Kapitaal- en hulpbronuitdagings: Gebrekkige misdaadintelligensie en forensiese vermoëns vertraag volhoubare vordering;
. Polisie-bestuur: ’n Oudit van vaardighede en geldsake in die polisie is nodig om korrupsie en swak bestuur uit te roei; en
. Samewerking tussen agentskappe: Ongekoördineerde pogings tussen die polisie, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die departement van korrektiewe dienste beperk die impak van die stryd teen misdaad.
Positiewe Ontwikkelings:
. Minder ernstige misdade: ’n Afname van 5,1% kwartaalliks in ernstige misdaad, insluitend ’n 5,8%-afname in moorde.
. Groot operasionele sukses: Operasies soos Shanela het meer as 260 000 inhegtenisnemings en beslagleggings op dwelms en vuurwapens opgelewer;
. Teen-georganiseerde misdaad: Vordering teen onwettige mynbou en dwelmsindikate in provinsies soos Mpumalanga en Gauteng beklemtoon die waarde van intelligensie-gebaseerde polisiëring; en
. Interregering-samewerking: Ooreenkomste met munisipaliteite en betrokkenheid by belanghebbendes soos die Kontantvervoervereniging van Suid-Afrika (Citasa) het gehelp om koördinasie te versterk.
Voorstelle:
. Gedesentraliseerde polisiëring: Oordrag van bevoegdhede na bekwame provinsies vir beter hulpbronbenutting en gemeenskapsgebaseerde strategieë is nodig;
. Moderne tegnologie: Verbeterde forensiese laboratoriums en intelligensiestelsels is dringend nodig;
. Misdaadvoorkoming: Fokus op die sosio-ekonomiese drywers van misdaad, soos werkloosheid; en
. Aanspreeklikheid: Sterker dissiplinêre meganismes in die polisie en versterkte grensbeheer teen smokkelary.
“Minister Mchunu se toewyding tot strategiese optredes is prysenswaardig, maar die kernprobleme van hulpbrontekorte en swak tegnologie bly krities. Die pad na ’n veiliger Suid-Afrika vereis sistemiese hervorming en volgehoue toewyding,” sê Cameron.



