Worcester se nuwe junior stadsraad is verlede week ingehuldig. Links voor staan Charles Beukes (Community Help and Information project of Students (Chipros)) en landdros Corné Botes. Heel regs staan die gasspreker, David Jantjies, en die BVM se burgemeester, Antoinette Steyn. Agter haar staan Esmerelda Pekeur (Chipros). Foto: Tamsyn Jantjies


Die nuwe junior stadsraad is verlede week by die 17de inhuldigingseremonie bekendgemaak.

Worcester se nuwe junior stadsraad (JSR) is in 2007 deur Charles Beukes, onder die vaandel van Community Help and Information project of Students (Chipros), gestig.

“Chipros het ek in 1982, as dosent, met senior maatskaplikewerk-studente begin as ’n eksterne gemeenskapsdiens vir studente aan die Minnie Hofmeyr-kollege. Met die sluiting van die kollege in 1991 het Chipros toe ’n gemeenskapsorganisasie geword en die junior stadsraad is ons vlagskipprojek,” het Beukes tydens sy verwelkoming verduidelik.

Hy het begin oplet dat die plaaslike jeug die pad byster raak.

“Die idee van die JSR het by my opgekom nadat ek gesien het hoe jongmense – weens verskillende redes – ’n traak-my-nie-agtige houding jeens die nuwe politieke bedeling ingeneem het. Ek kon nie aanvaar dat dit juis hulle is vir wie se vryheid en beter toekoms Madiba 27 jaar in die tronk was, wat skynbaar nie gepla was om betrokke te wees om die demokrasie te help opbou nie.”

Verlede week is 36 junior raadslede ingeseën. Benjamin Kriegler van HTS Drostdy is as die nuwe junior burgemeester verkies en Rushaan Abdol van Worcester Gimnasium as die raad se nuwe Speaker. Beide die nuwe burgemeester en Speaker het aan hul mederaadslede belowe om hul poste tot die beste van hul vermoë vol te staan.

Die JSR funksioneer grotendeels soos die regte stadsraad. Van die leerders wat in die raad dien, het verskeie portefeuljes waaraan hulle moet werk en wat hulle bestuur. Die groep leerders sal ook tydens hul termyn verskeie uitreikprojekte binne die gemeenskap behartig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article