’n Plaaslike jong man, wat onlangs as een van die top-24 in die gewilde Die Kontrak-sangkompetisie verkies is, meen hy is nou een tree nader daaraan om sy kleintyd-drome te verwesenlik.
Wilton Franse (22), wat op ’n plaas net buite Robertson gebore is, het as die jongste seun saam met sy ouers, sy drie broers en drie susters gewoon. Sy ouers is geskei toe Wilton nog jonk was en hy moes saam met sy ma en al sy sibbe na Prins Albert verhuis.
Hier het sy gesinslewe ontspoor.
“My ma was ’n alkoholis en my pa het nie veel in ons belanggestel nie. Dit het baie swaar gegaan en haar drankprobleem het handuit geruk. My suster, wat toe sewe jaar oud was, het pille gedrink en is toe oorlede. Enkele maande later het my ma my jongste suster doodgelê – sy het dit swaar gevat, en maande daarna is my ma aan ’n hartaanval oorlede,” vertel Wilton.
Wilton en sy broers en oorblywende susters is ná die tragiese gebeure sak en pak terug Robertson toe. Hy het egter die skok van sy lewe gekry toe hy uitvind sy pa is in ’n rolstoel, en weke daarna is hy ook oorlede.
Die gebeure rakende sy pa se dood is vandag nog onduidelik.
“Ons is dadelik in die Herberg-kinderhuis geplaas, en daár het ek die meeste van my grootwordjare gebly. Ek is op 14 in die koshuis in Worcester geplaas en het einde 2019 my skoolloopbaan by die Nuwe Hoop-sentrum voltooi,” vertel Wilton.
Ná skool het Wilton die geleentheid gekry om by die spogwynlandgoed Lanzerac aan te sluit en werk sedertdien daar as ’n kelner.
Sy droom is om eendag ’n musikant te word en met die nuus dat hy as een van die finaliste van seisoen drie van Die Kontrak gekies is, is dit binne bereik.
“Ek het ’n kans gewaag en het my alles gegee. Toe ek as finalis aangewys is, het ek begin huil. Ek is so dankbaar. Ek wil vir ander wys hulle kan ook. Ek het nie my lewe gekies of wat met my gebeur het nie – ek soek net ’n geleentheid om myself te bewys. Ek wil graag teruggee aan ander wat nie het wat ek gehad het nie, al was ek in die kinderhuis.”. Seisoen drie van Die Kontrak word later vanjaar op Etv uitgesaai. Volg gerus Wilton se reis na sukses op sy sosialemediakanale.


