’n Jong polisieman is vroeër vandeesweek skielik oorlede. Foto:

Credit: SYSTEM

’n Jong polisieman van Ceres is Dinsdag skielik oorlede.

Volgens Jonothan Engelbracht se suster, Melanie, het haar broer as gevolg van ’n massiewe hartaanval beswyk. Hy het sy 30ste verjaardag op 10 April gevier.

“Hy was glad nie siek voor sy sterfte nie. Hy was so gelukkig. Die aand voordat hy oorlede is, het hy my huis toe geneem en ons twee het so lekker gesels en grappe gemaak. Hy was soos altyd baie motiverend,” vertel Melanie.

Engelbrecht het ’n paar jaar gelede by die Tulbagh-polisiekantoor begin werk.

“Hy was baie lief vir sy werk. Hy het my nog verlede week vertel watter vreugde dit hom bring om die gemeenskap te dien en hoe die gemeenskap reageer op hoe hy sy werk doen. Hy het nie sommer by die huis gebly nie.”

Kol. Viala Groenewald, die stasiebevelvoerder van die Tulbagh-polisie, se hulle almal is nog baie hartseer.

“Konst. Engelbrecht het so drie jaar gelede ná sy opleiding hier by ons aangekom. Dis vir ons almal nog so onwerklik. Voordat hy polisiekollege toe is, was hy in die reserwediens. Hy kan nie met net een woord beskryf word nie – hy was gedissiplineerd, netjies en ’n trotse, trotse polisiebeampte. Hy was gewild onder almal en in die kort tydjie van sy loopbaan het hy in soveel mense se harte gekruip.

“Hy het ’n gesindheid gehad soos min. Hy was ’n Godskind en het sy God eerste gestel en nie ’n geheim daarvan gemaak nie.

“Daar was nooit ’n dull moment met hom nie – hy was ’n regte terggees en kon jou siel sommer lekker uittrek. Dit is hoekom dit so hartverskeurend vir my as bevelvoerder is om so ’n jong polisielid en so ’n goeie lid aan die dood af te staan. Iets wat ons almal sal onthou – hy het ’n obsessie gehad met penne; ons weet nie hoekom nie. Ek het nie die kans gehad om hom te vra nie, maar hy het alewig ’n mooi pen gesoek. Hy het van kop tot tone uitgestaan. Een van die mooiste blomme op die stasie is gepluk – hy het die mooiste siel gehad. ’n Mens het geweet waar jy met hom staan. Alles wat hy gedoen het, het hy met soveel trots gedoen. Dit was ’n groot skok om van sy dood te hoor. Dis baie hartseer om iemand soos hy te verloor. Ek glo nie daar is iemand wat sy plek sal kan vul nie. Dis baie moeilik vir sy skof-kollegas ook. Ons het hom ‘konstabel Engel’ genoem, en ek glo daar waar hy nou is, is hy ’n engel wat oor ons sowel as sy gesin uitkyk en waak,” het Groenewald gesê.

Engelbrecht se suster het ook gepraat van haar broer se gesindheid en hoe hy sy lewe geleef het.

“Hy was ’n mense-mens en hy was vol lewe. Hy het ook ’n vol lewe gehad. Soveel so, toe ek hom nie te lank terug nie gevra het hoe hy sou voel as die Here hom vroeg moes kom haal, het hy gesê hy is gereed,” vertel sy met groot emosie.

Verder vertel sy hoe lief hy vir sy familie en sy kinders was.

“Hy was veral baie lief vir sy susters. Hy was net so lief vir sy kinders en sy verloofde.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article