Hy sou binnekort vir ’n tweede keer pa word, maar sy lewe is egter Sondag in die vroeë oggend-ure kortgeknip toe hy met ’n mes aangeval is.
Die oorledene is die 24-jarige Curtley Pieterse van die woonbuurt Montana in Wolseley. Pieterse was die pa van ’n vierjarige dogtertjie, Aqeelah.
Sy verloofde, Angie Dunn, is tans swanger met hul tweede kind wat na verwagting later vandeesmaand gebore word.
Pieterse se pa, Johannes (55), het aan Standard & Gazette gesê sy seun was Saterdagaand saam met vriende by ’n kuierplek in Wolseley.
Volgens Johannes het Curtley en sy vriende besluit om die pad te vat toe ’n stryery by die kuierplek uitgebreek het.
Hy sê Curtley se aanvallers het hom en sy vriende agtervolg tot in Paulingstraat waar hulle op hom toegesak het.
Volgens Johannes het van sy seun se vriende – uit vrees vir hul veiligheid – weggehardloop.
Hy sê Curtley se ander vriende wat op die toneel agtergebly het, het sy aanvallers gesmeek om hom nie seer te maak nie. Volgens Johannes is sy seun met ’n mes in die hoofslagaar in die lies gesteek.
Johannes sê ná die voorval het een van Curtley se vriende die voorval by die polisie aangemeld.
Volgens Johannes – ’n voormalige polisie-reservis – het die polisie hom so skuins ná 02:00 gebel en ingelig van die voorval.
Johannes sê toe hy by die misdaadtoneel opdaag, was sy seun reeds oorlede. Hy sê van Curtley se vriende het om sy lyk saamgedrom en aanhoudend na hom geroep.
“Ek het geen woorde gehad nie. Dit was verskriklik om hom daar te sien lê. Dit is nie maklik om ’n kind aan die dood af te staan nie.”
Johannes sê hy verneem dat een van Curtley se aanvallers hom kort ná die voorval aan die polisie oorgegee het. Hy sê hy en Curtley se ma, Lizelle Cornelius (55), het Maandag sy lyk gaan uitken.
Johannes sê sy seun was ’n stil mens. Volgens hom was hy (Curtley) egter baie lief vir rugby. Johannes sê Curtley het vir Miracles-rugbyklub in Wolseley uitgedraf.
Volgens hom was sy seun ook versot op binnenshuise krieket.
Curtley se begrafnisdiens is eerskomende Sondag in die saal van Witzenberg Primêre Skool in Wolseley.
Teen druktyd het die Wolseley-polisie nog nie op Standard & Gazette se navrae hieroor gereageer nie.



