Tasneem Steyn (16) in aksie in ’n netbalwedstryd tussen die Hoërskool Montagu en die Hoërskool Robertson. Sy kry nou die geleentheid om saam met ’n span topnetbalspelers te gaan toer. Tasneem is gekies vir die Travel and Sport u-19 Invitational 7s- netbalspan, wat later vanjaar in Doebai gaan toer. Foto: Franco Caleb Chayim du Toit


MONTAGU – ’n Baie talentvolle jong netbalspeler van die dorp is gekies om later vanjaar aan ’n netbaltoernooi in Doebai te gaan deelneem.

Tasneem Steyn (16), ’n gr. 8-leerder aan die Hoërskool Montagu en wat tans vir haar skool se eerste span speel, het die keurders by die Fair Cape Super Schools- netbaltoernooi, wat van 27 tot 30 Maart by die Hoërskool La Rochelle in die Paarl plaasgevind het, só beïndruk dat sy vir die Travel and Sport u-19 Invitational 7s-netbalspan, wat later vanjaar in Doebai gaan toer, gekies is.

Die span sal van 28 November tot 6 Desember aan die Emirates Dubai Sevens-netbaltoernooi deelneem.

Dié talentvolle speler, wat in die verdedigerposisie speel, benodig egter ’n stewige R52 160 om die toer mee te maak.

Hoewel sy baie opgewonde is en uitsien na die toer, bekommer sy en haar ma, Nelmarie, hulle oor of hulle die nodige geld vir die toer betyds sal kan insamel.

Dus reik hulle langs hierdie weg uit na skenkers of borge in die gemeenskap en elders wat haar moontlik kan help om haar droom te verwesenlik.

Intussen beplan sy en haar ma braaiverkope en lootjies as ’n manier om geld in te samel, sê die lenige speler.

Tasneem se pa, Terence Steyn, het hulle in Oktober verlede jaar ontval en sedertdien is haar ma ’n enkelouer en alleenbroodwinner wat in moeilike omstandighede die pot aan die kook moet hou.

Vir enigiemand wat graag ’n borgskap of geldbydrae wil gee, is die bankbesonderhede soos volg:

Bank: Standard Bank

Rekeninghouer: N. Steyn

Spaarrekeningnommer 0000000082240167

Vir meer besonderhede kan Nelmarie Steyn by selfoonnommer 082 447 3664 gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article