Teshwon du Preez is verlede week deur ’n groep mense doodgeslaan. Foto:


Die gemeenskap van De Doorns treur ná die ontydige dood van ’n jongman wat glo doodgeslaan is.

Volgens ’n De Doorns- polisiewoordvoerder is Teshwon du Preez die afgelope Donderdag (27 Junie) aangerand.

“Mense het bespiegel dat hy by ’n spazawinkel in Stofland ingebreek het. Die gemeenskap het hom glo die hele dag gesoek,” verduidelik die woordvoerder.

Hy verduidelik verder ’n groot groep gemeenskapslede het Du Preez opgespoor en in “boendoehofstyl” begin aanrand.

“Nadat hulle hom opgespoor het, het die groep hom begin aanrand. Hy is op die toneel dood nadat hy herhaaldelik geslaan is.”

Nadat een van Du Preez se vriende sy foto met die boodskap “R.I.P. Bru [sic]” op die De Doorns-Facebook-gemeenskapsblad geplaas het, het baie hul skok en medelye gedeel. Een kommentaar verduidelik Du Preez was in sy jonger dae ’n kranige rugbyspeler vir die Mountain Stars-rugbyklub.

“Sterkte aan die familie. Ek kon dit nie glo nie wat met hom gebeur het nie. Onthou Jesus sal saam met die families wees, [sic]” het iemand anders gesê.

Nog iemand het die volgende geskryf: “Ai, het gesien hoe stukkend sy pa is. Niemand kan nou niks sê of doen nie. Alle sterkte vir die familie. My hart bloei vir julle. Mag sy siel in vrede rus.”

Niemand is nog in hierdie stadium vir sy moord in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article