Nizaam Sauls (25) word sedert 5 Oktober vermis. Foto:

Credit: SYSTEM

Die gesin van ’n 25-jarige man wat sedert Donderdag 5 Oktober vermis is, is rasend van bekommernis.

Volgens die vermiste Nizaam Sauls se suster, Natalie, het sy hom daardie Donderdag die laaste keer gesien.

“Ek het hom daai Donderdag om 06:00 daar in gravel-gat gesien. Dis waar ons woon. Hy het nie vir my gesê waarheen hy gaan nie. Hy’s net daar weg sonder verduideliking,” sê sy.

Sy vertel verder dat hy al voorheen van die huis af weggebly het, maar nog nooit vir so lank nie.

“Hy het al soms so vir ’n week of twee na sy vriende in Nkqubela toe gegaan, maar het nog nooit so lank weggebly nie. Ons en die polisie het al by sy vriende daar gaan vra of hulle hom dalk gesien het sedert hy verdwyn het, maar hulle het gesê hulle het hom twee maande laas gesien.”

Sy suster voer ook aan dat hy vermoedelik by bendebedrywigheid betrokke was.

“Hy het soms goed vir hulle afgelewer. Daai aand dat hy vermis geraak het, het hy glo ook goed vir hulle afgelewer.

“Bendelede het vir so twee weke ná sy verdwyning nog na hom gesoek. Daar was gerugte dat hulle hom in Droëheuwel opgespoor het. Maar ná dit het ek niks verder gehoor nie; ons soek steeds na hom.”

Enigiemand met inligting oor waar Nizaam Sauls homself bevind, word gevra om AO Rachel Burger van die Robertson-polisie by 023 626 8340 te kontak of Natalie Sauls by 082 200 1920.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article