Drie burgers van Bangladesj is verlede maand in Touwsrivier in hegtenis geneem nadat hulle ’n plaaslike jong man ontvoer het.
Die verdagtes het ook ’n losprys van R200 000 vir die 22-jarige man geëis.
Volgens die polisie is die man Maandag 23 Oktober ontvoer.
“Hy is by sy werksplek in Touwsrivier ontvoer. Die vier verdagtes is tussen die ouderdom van 39 en 59 jaar oud,” sê kapt. F. C. van Wyk, ’n polisiewoordvoerder.
Familielede van die ontvoerde man het later die polisie van sy verdwyning in kennis gestel.
“Die slagoffer is later deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gered,” sê Van Wyk.
Dit is onduidelik hoe en waar die slagoffer gered is.
“Die slagoffer is gered sonder dat die losprys betaal is. Daar kan ook nie gesê word of die slagoffer in die mensehandel gedruk sou word nie,” het Zinzi Hani, ’n woordvoerder van die Valke, gesê.
Van Wyk bevestig dat geen aanduiding bestaan dat die man elders heen geneem sou word nie.
In hierdie stadium is dit nog onduidelik hoekom juis dié jong man deur die Bangladesji-burgers ontvoer is.
Hoewel net drie van die verdagtes aanklagte in die gesig staar, was vier verdagtes volgens die Valke by die jong man se ontvoering betrokke.
Geen verduideliking is gegee waarom die vierde verdagte nie ook aangekla is nie.
Die slagoffer het wel die ontvoering oorleef, maar het glo ernstige beserings opgedoen.
“Hy het beserings aan sy bolyf opgedoen weens die aanranding deur diegene wat hom ontvoer het. Hy is ná sy redding na ’n hospitaal geneem waar hy behandeling vir sy wonde en beserings ontvang het,” sê Van Wyk.
Die verdagtes het Maandag 27 Oktober die eerste keer in die Worcester-landdroshof verskyn.
Hulle het Woensdag 8 November vir ’n aansoek om borgtog verskyn.



