Jacqui Pokwas (regs) maak ’n jong meisie touwys met ’n spesifieke vlegmetode. Dit was tydens die gemeenskapsprojek Jacqui’s Helping Hands se terugskooltoe-inisiatief. Foto: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

MONTAGU. – ’n Bekende gemeenskapsleier wat ook self ’n ma is, het verlede jaar met ’n gemeenskapsprojek, Jacqui’s Helping Hands, begin om skoolkinders se hare netjies te sny en te vleg.

Jacqui Pokwas verduidelik hoekom sy dié projek begin het.

“Ek het die behoefte gesien, veral as die skole heropen. Baie van ons mammies sukkel saans as hulle van die werk gekom het, dan moet die kinders se hare nog gesny of gevleg word.

“Ek is self ’n ouer, gelukkig kan ek sê ek weet waaroor dit gaan. Toe het ek net besluit om hierdie projek aan te pak,” vertel sy.

Pokwas het die projek in 2023 van stapel gestuur – “dit was ’n groot sukses”, sê sy.

Daarom het sy besluit om dit vanjaar met die nuwe skooljaar weer aan te pak.

Dit is ’n projek sonder winsbejag en Pokwas gebruik jong meisies en seuns uit die gemeenskap om die kinders se hare te help vleg en te sny.

“Ek het besluit, kry van ons jong mense om iets terug te ploeg in die gemeenskap. So, dit is ons eie jongmense van Ashbury wat mekaar se hare vleg en ons seuns wat die seuns se hare sny. Dit maak dit soveel makliker,” vertel sy entoesiasties.

Sy sê van die mammies wat werkloos is, het ook aangebied om te help.

Voorts beklemtoon Pokwas dat dit ’n gemeenskapsprojek is.

“Jacqui’s Helping Hands is altyd oop vir die gemeenskap. Ons doen dit nie vir geld nie. Ons doen dit gratis, uit liefde uit. En dis net om ons ouers te help en ook sodat ons kinders kan mooi lyk vir skool,” sê sy met ’n breë glimlag.

Die haarsny en -vleg-sessies word in die saal van die Ashbury-gemeenskapsbiblioteek gehou.

Pokwas sê die projek word goed deur die Ashbury-gemeenskap ondersteun en sy beoog om dié haarsessies voortaan ’n jaarlikse instelling te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article