Die Worcesteriet Jacques Viljoen (26) is ’n belowende jong ingenieur en het onlangs ’n beurs ontvang om sy PhD-studies aan ’n gesogte universiteit in die Verenigde State van Amerika te voltooi.
Jacques, wat sy matriek by HTS Drostdy voltooi het, se reis van ’n klein dorpie na een van die mees bekende ingenieursprogramme in die wêreld is ’n bewys van sy toewyding, harde werk en die krag van onderwys wat lewens kan transformeer.
Jacques, wat sy meestersgraad aan die Universiteit van Pretoria voltooi het, het grootgeword in ’n middelklas-huishouding in Worcester en kon ten spyte van verskeie finansiële uitdagings daarin slaag om ná skool ’n beurs te kry vir sy verdere studies.
“Ek het ’n groot belangstelling in wetenskap en wiskunde gehad, en my onderwysers op skool het my heeltyd gedruk om die beste weergawe van myself te wees. Ek het danksy hul aanmoediging aansoek gedoen om ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria, een van die top-gekeurde universiteite in die veld van ingenieurswese in Suid-Afrika, te studeer. Daar was talle uitdagings en dit het soms swaar gegaan, maar ná ek my honneursgraad voltooi het en daarna my meestersgraad, het ek geweet ek kan dit doen,” vertel hy aan Standard.
Jacques se jare in Pretoria was gevul met akademiese uitdagings, maar hy het volgehou deur die ure en ure van studie, talle opdragte en eksamens.
Hy het uitgeblink in sy kursus en is deur sy professore vir sy uitsonderlike prestasie erken.
Jacques se harde werk en toewyding het vrugte afgewerp toe hy met lof gegradueer het en laasjaar sy meestergraad in elektriese ingenieurswese verwerf het.
“Dit is alles net genade. Dit was nie maklik nie, want ek was ver van alles en almal. Alles wat ek geken het, was nou onbekend. Ek het vinnig vriende gemaak en het my koshuislewe ook omarm. Ek is dankbaar vir die geleenthede wat oor my pad gekom het.”
Jacques se ambisies het egter nie daar opgehou nie. Hy was vasbeslote om verdere te studeer en om by te dra tot die veld van ingenieurswese. Met die hulp van sy mentors en professore het Jacques by verskeie universiteite oor die wêreld heen vir sy verdere PhD-studies aansoek gedoen. Sy akademiese rekord en passie vir ingenieurswese het die aandag van ’n toonaangewende universiteit in die Verenigde State getrek, wat hom ’n beurs aangebied het om sy PhD te voltooi.
“Ek het by ’n paar universiteite aansoek gedoen en wou ’n beurs kry om my studie te dek. Ek het met die hulp van my een studieleier aansoek gedoen by die Universiteit van Pittsburgh en het maande lank gewag vir ’n antwoord.
“Ek het in Desember uitgevind ek het die beurs gekry en sal in Mei vanjaar aansluit by die Swanson-skool vir ingenieurswese by hierdie instelling,” vertel hy blinkoog aan Standard.
Jacques se PhD-navorsingsvoorstel fokus op die ontwikkeling van hernubare energietegnologieë wat in landelike en onderbediende gemeenskappe geïmplementeer kan word. Sy werk word gemotiveer deur sy ervaring om in ’n land te kon groot word sonder betroubare toegang tot elektrisiteit en hy kon eerstehands die impak sien wat dit op die gemeenskap het.
Jacques glo dat ingenieurswese ’n kritieke rol kan speel in die oplossing van sommige van die wêreld se dringendste uitdagings, en hy is daartoe verbind om deel van daardie oplossing te wees.
“Ek wil terugkom en ’n verskil maak. Dit is my doelwit. Ek sal altyd ’n Suid-Afrikaner wees en my wortels is hier.”
Jacques se reis van ’n klein dorpie in Suid-Afrika na ’n top-ingenieursprogram in die Verenigde State is ’n inspirasie vir studente van alle agtergronde. Sy storie wys dat met harde werk, vasberadenheid en die ondersteuning van ander enigiemand hul drome kan bereik.
Dit beklemtoon ook die belangrikheid van onderwys om hindernisse af te breek en geleenthede te skep vir mense om hul volle potensiaal te bereik.
“My ouers is my steunpilaar en hulle staan altyd agter my. Ek het ook wonderlike vriende en my meisie is net so opgewonde vir my part,” voeg hy by.
Hy werk tans as ’n studente-adviseur by sy alma mater en sal binnekort vertrek om sy studie in Amerika te begin.





