Leerders van Avianpark Primêre Skool het ywerig geverf aan klippe wat gelê sal word by Avianpark Kliniek.Foto: Dominique Jeftha


Bouwerk aan die Avianpark-kliniek vorder goed en nou, danksy sy jong bure, het die kliniek ’n vroliker voorkoms.

Sandra Maritz, woordvoerder van die departement van gesondheid in die Kaapse Wynland, sê die departement van gesondheid in die Wes-Kaap is baie dankbaar teenoor leerders van Avianpark Primêre Skool vir die verf van klippe, wat by die kliniek in beton gelê sal word.

’n Datum vir die ingebruikneming van die kliniek, wat omvattende dienste sal bied, sal binnekort aangekondig word.

Volgens Maritz bied ’n mobiele kliniek tans sekere gesondheidsdienste aan die Avianpark-gemeenskap deur in die buurt te beweeg, asook ’n dienspunt by die Ukwanda-satellietgebou in Loeriestraat, en twee satelliet-klinieke (Maria Pieterse en Somersetpark) wat op sekere dae beperkte gesondheidsdienste bied. Personeel van hierdie satellietklinieke sal die dienslewering by die nuwe Avianpark-kliniek behartig.

Surina Neethling, die assistent-direkteur en infrastruktuur-koördineer vir die Kaapse Wynland-streek, sê hoewel ’n volwaardige kliniek reeds lankal ’n doelwit vir Avianpark is, kon die departement die gemeenskap steeds deur inisiatiewe soos die satelietklinieke ondersteun.

“Ons sien baie daarna uit om ’n kliniek, waar ’n omvattende dienstepakket in die buurt beskikbaar sal wees, te open,” sê sy.

Volgens Maritz sal die departement die gemeenskap op hoogte hou van die vordering met die kliniek en wanneer die kliniek amptelik sal open.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article