Ten spyte van ’n rugbesering wat hy vroeg vandeesmaand opgedoen het, het die 12-jarige Ejay Brown van Worcester stof in die oë van sy teenstanders geskop toe hy aangewys is as die Suid-Afrikaanse kampioen in die o.13-hoogspringkategorie by die Suid-Afrikaanse Laerskole-atletiekbyeenkoms wat verlede week in Pietermaritzburg gehou is.
Die byeenkoms het van 20 tot 22 Maart plaasgevind. Ejay is een van drie atlete wat die Wes-Kaap op die byeenkoms verteenwoordig het.
Wat Ejay se prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat hy die hoogspring-rekord van 1,75 meter in sy ouderdomsgroep geëwenaar het. Dit beteken dat Ejay se naam ook nou in die rekordboeke opgeteken gaan word.
Die jong atleet is die oudste van twee kinders en ’n gr. 7-leerder verbonde aan Victoriapark Primêre Skool in Worcester, waar hy ook hoofseun is.
Ejay sê hoewel hy baie bly is oor sy oorwinning, het hy dit en die rekord wat hy geëwenaar het, glad nie verwag nie. Hy sê dis alles nog vir hom onwerklik.
Volgens Ejay was hy aanvanklik nie baie gretig om aan hoogspring deel te neem nie. Hy sê Rodney Booysen, wat een van sy afrigters is, het hom egter aangemoedig om vanweë sy lengte hoogspring ’n kans te gee.
In daardie stadium was Ejay in gr. 4.
Ejay sê toe hy sy oë uitvee, was hy versot op hoogspring, “want jy gaan op in die lug en jy val”. Hy sê hoewel hy ook in rugby belangstel, bly hoogspring sy gunsteling.
Volgens dié kampioen is sy ouers baie trots op hom – soveel so dat hulle vir hom ’n geskenk gekoop het. Hy sê sy maats kan ook nie uitgepraat raak oor sy prestasies nie.
Ejay sê hy oefen hoogspring soms tot drie keer per week.
Volgens hom het hy op 4 Maart by die Boland-byeenkoms ’n terugslag gehad toe hy sy rug beseer het. Hy het toe derde geëindig.
Ejay se besering het daartoe gelei dat hy vir ’n week nie kon oefen nie. Hy sê dit was nie lank nie toe begin hy weer oefen om voor te berei vir die Wes-Kaapse byeenkoms wat op 11 Maart plaasgevind het. Ook hier het hy in die derde plek geëindig.
Cleo Fortuin, sport-koördineerder en een van Ejay se hoogspring-afrigters by die skool, sê hy is baie trots op Ejay se vertoning by die Suid-Afrikaanse Laerskole- atletiekbyeenkoms.
“Ejay het baie ingesit en hard gewerk om te bereik wat hy bereik het. Ons wil graag hê hy moet volgende jaar by ’n goeie skool inkom waar hulle hom nog verder kan kweek – veral wat sy atletiek betref.”
Volgens Fortuin is Ejay altyd baie gretig om te oefen – of dit nou sonskyn, winderig of koud is.
Fortuin sê benewens hoogspring is Ejay ook ’n kranige hekkies-atleet. Hy het eerste geëindig in die 80 m- hekkies by die Noord-Boland-byeenkoms op 25 Februarie. Hy het ook eerste geëindig in die 800 meter en hoogspring by dieselfde byeenkoms.
Volgens Fortuin voorspel hy ’n blink toekoms vir Ejay.
Ejay sê sy droom is om eendag aan die Olimpiese Spele deel te neem.


