Die Worcesteriet Jonelle Spammer neem deel aan die jongste “Op my Eish!” Foto:


Jonelle Spammer, gebore en getoë in Worcester, is deesdae op die realiteitsprogram Op my Eish! te sien.

Vroue moet in die nuwe reeks van die program probeer om die hart van ’n bekende sanger, Brendan Peyper, te wen. Dié 21-jarige Worcesteriet is in verlede Donderdag se episode as ’n buiteperd ingebring.

Sy was in haar kamer, besig op haar foon, toe sy in September verlede jaar ’n oproep ontvang het.

“Toe bel hulle my en vra of ek beskikbaar is. Ek het dadelik ja gesê; dit was so spesiaal. Ek was een van Ouma Meisie se keuses.”

Spammer, tans ’n vierdejaar-onderwysstudent aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie se Wellington-kampus, het toe die heel eerste keer in haar lewe op ’n vliegtuig geklim en na die Vrystaat gereis, waar die program verfilm is.

“Dit was ’n amazing avontuur. Dit was baie lekker om Brendan te ontmoet, asook die ander vroue wat deel is van die reeks. Dit was net ’n bietjie uitdagend met die kameras wat heeltyd om ’n mens is en alles verfilm; ek is nie gewoond daaraan nie. Maar ek het dit geniet.”

Sy mag nie veel sê oor wat in die program gebeur nie, maar het wel die volgende gedeel: “Daar is ’n konneksie tussen my en Brendan en dit sal verbeter namate die episodes vorder; so ook vriendskappe met die ander vroue.”

Sy is baie opgewonde vir haar gesin en die res van Suid-Afrika om die episodes uiteindelik te kan sien.

“Ek was so excited en het só uitgesien daarna. Ek is net myself op die show; ek kan nie voorgee nie.”

. Op my Eish! word elke Donderdag om 20:00 op KykNET uitgesaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article