Johayne Vorster (15), ’n gr. 9-leerling aan die Worcester Senior Sekondêre Skool (WSS), is ’n ywerige atleet wat sedert 2020 doelgerig aan sy atletiekloopbaan bou.
Sy mikpunt vir die nuwe jaar is om die Wes-Kaapse span te ehaal, én moontlik borgskappe in te win.
Dié atletiek-boffin is ’n skaam individu van nature, maar definitief nie as dit by atletiek kom nie.
In Maart vanjaar het Johayne aan die Boland-atletiekkampioenskap in die Paarl deelgeneem en uitgeblink in die 3 000 m in ’n tyd wat vir hom ’n silwermedalje ingewin het, en ook ’n goeie tyd in die 1 500 m behaal, met 4 m 38 sek.
“Hierdie tye was baie goed vir sy ouderdomsgroep omdat hy die tye wat ouer seuns gewoonlik behaal, gehardloop het,” sê Hermanus Vorster, Johayne se trotse oupa.
Tans oefen Johayne doelgerig ses dae per week saam met die Worcester-atletiekklub, waar hy ’n lid is.
Johayne se hardloopvernuf stop nie net op die atletiekbaan nie, en strek tot op die pad waar hy gereeld aan 5 en 10 kilometer-wedlope deelneem. Die mees onlangse een was by die Kaapstad maraton waar hy in 35 minute die 10 kilometer wedloop voltooi het, en agste geëindig het in sy ouderdomsgroep.
“Johayne het ver gekom met niks,” sê Hermanus, wat ook verduidelik dat die Vorster-familie soek na borgskappe om dié atleet verder te vat om sodoende Wes-Kaapse kleure te behaal.
Hermanus sê dat ’n borgskap vir sy kleinseun baie sal beteken wat betref die regte skoene, kleredrag en voedselaanvullings — iets wat die familie nie in hierdie stadium kan bekostig nie.
“Ek het altyd gehou van atletiek, en veral die langafstande,” sê Johayne, wat vandag ook breed glimlag omdat hy sy laaste vak geskryf het, en regmaak vir die somerskoolvakansie wat wag.
Hy gaan egter nie nét Netflix kyk en na musiek luister nie, maar ook sy atletiektalent opknap om reg te wees vir volgende jaar se atletiekseisoen.





