Terwyl ons onlangs Wêreldpersvryheidsdag gevier het, is daar toenemend ’n kommerwekkende neiging om joernaliste persoonlik op sosiale media te teiken as jy nie met hul beriggewing saamstem nie.
Dit geld nie net vir politici, korruptes en berugtes (soos die diamanthandelaar Louis Liebenberg) van wie ’n mens dit teen dié tyd verwag nie.
Selfs gewone landsburgers en rolmodelle begin nou meedoen aan hierdie bedenklike boelietaktiek. In die afgelope week het Netwerk24-joernaliste (albei vroulik) by name deurgeloop onder sosiale-media-intimidasie deur groeperings wat nie saamstem met hul (feitelike) beriggewing oor die ondersoeke na die jong boer Willem Kruger se dood nie.
En niemand minder nie as die ikoniese Thuli Madonsela het op Twitter ’n skryfsel gedeel wat glo op WhatsApp die ronde doen en waarin nog ’n vroulike Netwerk24-joernalis by name daarvan beskuldig word dat sy die kuns vervolmaak het om “hondefluite op presies die regte toonhoogte” uit te stuur aan “bevooroordeelde lesers wat die US wit en eksklusief Afrikaans wil hou”.
Prof. Madonsela is geregtig op haar eie mening en het dit ook al op verskeie platforms gelug. Daar is geldige vrae oor hoe die uitvoerende komitee van die universiteit se konvokasie byvoorbeeld die huidige omstredenheid rakende die rektor se diskresionêre plasings van aangetroude familielede aanpak.
Dit is egter ’n jammerte dat sy dit goeddink om ’n skryfstuk vol losse en opruiende stellings op Twitter te deel. Dit is nie die soort oorwoënheid wat ’n mens van ’n gerespekteerde regsgeleerde (en akademikus) verwag nie.
Muur van verantwoordbaarheid
Anders as in Netwerk24 se nuuskantoor is die stellings en beweringe wat op sosiale media rondvlieg natuurlik nie onderworpe aan redaksionele prosesse nie. Feit word ook nie van mening geskei soos op ons webtuiste en in ons koerante nie.
En dit is die kruks van die onreg om individuele joernaliste vir hul beriggewing te teiken. Want inderdaad doen hulle net hul werk. Hulle opereer nie in isolasie en skryf lukraak stories wat net so gepubliseer word om hul eie persoonlike agenda te dryf nie.
Verslaggewers word deur redakteurs en nuusredakteurs bestuur wat besluit watter nuusgebeure moet aandag kry aan die hand van die nuusaanbod en -prioriteite van die dag. ’n Rits hekwagters met dekades lange ervaring gaan hul berigte na voordat die publiseer-knoppie gedruk word.
Meer nog: Netwerk24 se redaksie is nie ’n homogene groep mense wat almal dieselfde agtergrond en lewensbeskouing het nie. Ons het robuuste debatte en herinner mekaar voortdurend daaraan dat ons beriggewing die toetse van grondwetlike waardes en van die Suid-Afrikaanse Perskode moet slaag.
Geen individu – van redakteurs tot leerlingverslaggewers – gaan sommer deur hierdie redaksionele muur van verantwoordbaarheid breek om persoonlike vendettas te voer nie.
Reëls en prosesse geld
Die heel eerste punte van die SA Perskode lui:
Die media sal:
1.1 sorg toepas om die nuus waar, akkuraat en regverdig te rapporteer;
1.2 die nuus in konteks en gebalanseerd aanbied, sonder enige opsetlike of nalatige afwyking van die feite, hetsy deur verdraaiing, oordrywing of wanvoorstelling, wesenlike weglating of opsomming;
1.3 slegs wat geredelik waar mag wees as feite aanbied – menings, aantygings, bewerings of veronderstellings moet duidelik as sodanig aangebied word.
Bogenoemde is waarom dit by joernaliste ingedril word om bewus te bly van hul eie vooroordele sodat dit nie na hul nuusberigte deursypel nie. Ook waarom dit ’n goue draad regdeur die nuusproses is dat alles moontlik gedoen moet word om die verskillende kante van ’n saak te belig en soveel moontlik belanghebbendes die reg op kommentaar te gee. Soms is daar net een stel feite, maar meer dikwels het die waarheid verskeie hoeke.
Dit is ook waarom berigte oor die Universiteit Stellenbosch dikwels vir etlike ure teruggehou word sodat die universiteit eers kans kry om te reageer.
Onverdiende speelterrein geboelie
Joernaliste leer gou in hul loopbaan om dik velle te ontwikkel. Hulle is nie meer spesiaal as die res van die bevolking nie en hoef nie soos stukkies porselein hanteer te word nie. Maar as ’n groep professionele mense wat daagliks baie ekstra myle loop in die soeke na die waarheid verdien hulle nie kinderagtige en soms gevaarlike speelgrond-boeliery nie.
In ons viering van Wêreldpersvryheidsdag kan die publiek daarvan verseker wees dat Netwerk24 saam met die voorreg van vryheid ’n etos van verantwoordelikheid het. En wanneer ons wel fouteer (want ons bly mense), kan lesers hulle wend tot Netwerk24 se ombud by theresa.olivier@media24.com; of tot die Persraad- en ombud, of tot die Persraad- en ombudsman.
Hier is die kontakbesonderhede: Skakel 011 484 3612, stuur ’n e-pos na complaints@presscouncil.org.za of besoek www.presscouncil.org.za.
SA 25ste op wêreld se
Persvryheidsindeks
Die omgewing vir joernalistiek is “sleg” in sewe uit elke tien lande en bevredigend in net drie uit elke tien, volgens 2023 se Wêreld-persvryheidsindeks. In dié indeks, wat gister bekend gemaak is, word die omgewing vir joernalistiek in 180 lande en gebiede geëvalueer.
Daarvolgens is die situasie “baie ernstig” in 31 lande, “moeilik” in 42, “problematies” in 55 en “goed” of “bevredigend” in 52 lande.
Suid-Afrika het van die 35ste plek op verlede jaar se lys tot 25ste vanjaar opgeskuif, maar is nie die Afrikaland wat die beste vaar nie: Namibië is in die 22ste plek, vier plekke swakker as verlede jaar.
Suid-Afrika vaar wel beter as Brittanje (26ste), Australië (27ste), Spanje (36ste) en die VSA (45ste).
Botswana het met 30 plekke opgeskuif tot nommer 65 op die lys, twee plekke bo Lesotho.
Eswatini het met 20 plekke teruggesak tot 131ste, Zimbabwe het met 11 plekke opgeskuif tot 126ste en Mosambiek het van die 116de tot die 102de plek verbeter.
Noorweë is steeds die land met die meeste persvryheid, gevolg deur Ierland, Denemarke, Swede en Finland. Rusland is in die 164ste plek (155ste in 2022). Noord-Korea is steeds die land met die minste persvryheid. China en Viëtnam, wat elk vier plekke afgeskuif het, is saam met hom onderaan die lys.
Verslaggewers Sonder Grense (RSF), wat die indeks saamstel, het sy kommer uitgespreek oor die vals inligting wat steeds in Afrika suid van die Sahara versprei.
“In lande wat deur konflik en veiligheidsbedreigings geteister word, behandel die regering die media soos propagandawerktuie.”
Die impak van Rusland op lande soos Mali, Burkina Faso en die Sentraal-Afrikaanse Republiek word uitgewys.
“Die verdediging en bevordering van die pro-Russiese narratief het bygedra tot ’n ontploffing van disinformasie en die ontwikkeling van ’n propaganda-ekostelsel oor die vasteland heen.
“Valsmedianetwerke help nou selfs om joernaliste wat nie voldoen aan die opdragte wat die nuwe militêre juntas aan bewind afdwing nie, te verguis en te diskrediteer.”
Christophe Deloire, sekretaris-generaal van RSF, het volgens Bloomberg gesê daar is geweldige wisselvalligheid op die indeks, soos Brasilië se styging met 18 plekke en Senegal wat met 31 plekke geval het.
“Dié onbestendigheid is die gevolg van toenemende aggressiwiteit aan die kant van die owerhede in baie lande en toenemende vyandigheid jeens joernaliste op sosiale media en in die fisieke wêreld.”
Die indeks word saamgestel deur middel van ’n kwantitatiewe opname van vergrype teen joernaliste en media-organisasies en ’n kwalitatiewe ontleding gebaseer op ’n vraelys wat aan honderde persvryheidskundiges gegee word.
. Henriette Loubser is hoofredakteur van Netwerk24, die nuuswebwerf van Media24 waarop Paarl Post se nuus en epublikasie ook beskikbaar is.




