Jongmense sal binne die komende weke ’n plek hê waar hulle ná skool hul huiswerk kan gaan doen.
Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) open eersdaags ’n jeugkafee in Van Huyssteenlaan.
“Die idee agter die jeugkafee is dat jongelinge, en selfs ouer kinders en studente, ’n plek sal hê waar hulle kan gaan sit en hul huiswerk of take doen. Die kafee sal al die nodige toebehore hê, soos rekenaars en drukkers en natuurlik internetverbinding,” sê die BVM se uitvoerende burgemeester, Antoinette Steyn.
Sy verduidelik ook dat ’n opgeleide persoon elke dag beskikbaar sal wees om die kinders te help, en professionele mense uit verskeie velde sal die kinders gereeld kom toespreek oor hoe om te werk te gaan om in hul verskeie bedrywe werk te kry en wat om te studeer om in die betrokke bedryf te werk.
Sy beoog ook om afgetrede onderwysers te nooi en te vra om die kinders met hul werk en take te help.
“Ons wil graag hê hierdie moet ’n plek van veiligheid vir ons kinders wees. Daar is so baie gevalle waar kinders nie by die huis kan sit en werk nie omdat daar so baie afleidings is, of die omstandighede by die huis is nie so lekker nie. Ek wil hê kinders moet die vrymoedigheid hê om heeldag daar te sit en werk en eet. Ek wil nie hê daar moet ’n atmosfeer wees waar kinders bang sal wees dat hulle net ’n sekere tydperk daar mag werk nie. Nee, hulle sal heeldag daar kan sit en werk. Dit moet ’n plek wees waar hulle hulle kan geniet.”
Steyn voeg by dat die Breedevallei-jeugkafee ’n plek moet wees waar kinders hul vaardigheid en kundigheid kan verskerp asook ’n plek waar hulle hul kennis kan opbou.
“Ek wil ons kinders help om hul volle potensiaal te bereik. Ek wil hulle die geleentheid gee om hul studies verder te neem. Dit is hoekom ons die kinders gereeld sal inlig oor beurse en hoe om vir die verskeie beurse, wat deur die munisipaliteit aangebied word, aansoek te doen. Ek wil dit makliker maak vir die kinders om hul drome te bewaarheid.”
Jeugkafees word ook vir ander dorpe in die Breedevallei beplan. Besonderhede hieroor sal mettertyd beskikbaar gemaak word.
Die BVM beoog dat die Breedevallei-jeugkafee sy deure in die middel van Julie sal open.





