Jeugdiges van Worcester vaar verlede Woensdag die strate van Worcester in as deel van ’n bewusmakingsveldtog op Internasionale dag teen dwelmmisbruik en onwettige handel.Foto: Enrico Claassen


Sowat 100 jeugdiges het verlede Woensdag (26 Junie) op Internasionale dag teen dwelmmisbruik en onwettige handel aan ’n bewusmakingsveldtog deelgeneem.

Hulle het deur middel van ’n optog in die dorp hul teenkanting teen dié maatskaplike euwel gewys.

Die optog het omstreeks 10:00 by die VGK Worcester-Suid in Riverview, Worcester, begin en by Kerkplein geëindig.

Jeugdiges het plakkate omhoog gehou wat onder meer “Stop Abuse”, “Run Away From Drugs” en “No to Drugs” gelui het.

Die optog is gereël deur Talitha Cumi, ’n organisasie sonder winsoogmerk, wat op jeugontwikkeling fokus.

Van die rolspelers was die Worcester-polisie, Boland Overberg Witzenberg Langeberg (BOWL) Addiction Treatment Services, Kindersorg Suid-Afrika, MOSAIC Training, Service and Healing Centre for Women, die Worcester-Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) en lerde van die Kaapse Wynland-gemeenskapsontwikkeling.

Sers. Freddie Jansen van die Worcester-polisie het die jeug op Kerkplein oor die gevare van dwelms toegespreek. Volgens Jansen veroorsaak dwelms kinders se dood. Dwelms vernietig ook huishoudings en families sodat hulle nie meer normaal kan funksioneer nie.

“Wanneer kinders begin dwelms gebruik, word hulle aggressief. Hulle luister nie na hul ouers nie en begin steel. So, vandag is die dag wat ons moet opstaan teen dwelms en sê genoeg is genoeg!

“Wanneer julle weet van dwelmverwante aktiwiteite wat besig is om plaas te vind, meld dit onmiddellik by die polisie aan. Sodra julle weet van ’n dwelmhuis, meld dit ook by die polisie aan.”

Volgens Jansen sal die polisie die nodige doen deur beslag te lê op die dwelms en toesien dat die dwelmhuis sy deure sluit.

“Ons moet na ons kinders omsien.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article