Jerusha oorkom talle uitdagings en presteer bo verwagtinge in matriek

Jerusha Armoed (18) van Villiersdorp het ten spyte van moeilike omstandighede en traumatiese gebeurtenisse in haar lewe steeds ses onderskeidings behaal.


Die 18-jarige Jerusha Armoed van Villiersdorp weet van tragedie en hartseer en moes van ’n jong ouderdom af vir haarself moet opstaan. Sy het geweet sy gaan die siklus moet breek en dit is presies wat sy gedoen het.

Op driejarige ouderdom moes Armoed die trauma ervaar van haar pa wat haar ma vermoor het, terwyl sy sit en toekyk. Hierna word sy in die sorg van haar geliefde ouma geplaas. Soos miljoene ander mense word haar lewe ontspoor met die Covid-19 pandemie en boonop verloor sy haar ouma vroeg in haar graad 11 jaar.

“Ek was dalk klein gewees, maar ek het steeds terugflitse na die dag van my ma se moord. Oomblikke wat my altyd sal bybly. My ouma het my grootgemaak en sy was soos ’n ma vir my. Om haar ook te moes verloor het my teen die grond gehad. Ek het die Here verwyt en was kwaad vir die persoon wat stof in my geblaas het en op die aarde geplaas het, maar ek moes net weer glo. Ek moes opstaan,” vertel Armoed aan Standard.

Armoed, wat haar matriek aan Villiersdorp Sekondêre Skool voltooi het, het nagte omgesit om te studeer en die harde werk het vrugte afgewerp.

“Terwyl ander mense na die Temple Boys geluister het en by mekaar se huise gekuier het, het ek agter die boeke gesit. Die eksamen was omtrent ’n uitdaging en ek het op koffie en energiedrankies oorleef.”

Toe die matriekgroep van 2022 se uitslae op Vrydag 20 Januarie bekendgemaak word, het Armoed gehoop dat sy minstens ’n onderskeiding of twee sal behaal, maar haar wildste verwagtinge is oortref.

“Ons het skool toe gegaan en in afwagting gesit en gewag vir die uitslae. Ons skool het nog nooit eintlik A-kandidate gehad nie en vanjaar het ons twee. Ek is so dankbaar dat ek een van hulle was, maar nie verwag om so goed te doen nie,” sê sy.

Toe haar naam gelees word en sy hoor sy het ’n gemiddeld van 83% behaal en ses onderskeidings was sy amper in trane.

“Ek het dadelik gedink aan my ouma. Sy het altyd vir my gesê dat mens nooit in die donker moet twyfel as die Here in die lig is nie. Ek is trots op myself, want ek weet ek het hard gewerk. Ek is ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning van my familie en my onderwysers. Hulle het my deur als gedra.”

Armoed het onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels, Wiskundige geletterdheid, Lewensorientering, Toerisme en Geskiedenis. Sy staan ook nou voor ’n keuse oor haar toekoms en het keuring gekry by die Universiteit Kaapstad en Universiteit Stellenbosch om beide onderwys en maatskaplike werk te studeer.

“Ek moet nog besluit, maar is dankbaar dat ek opsies het.”

Sy vertel dat alhoewel haar ouma en die Here haar grootste dryfkrag was, dit eintlik die dood is wat haar inspireer het.

“Dit mag dalk vreemd klink, maar die dood het my inspireer. Ek moes van kleintyd af die gevolg van die dood in die gesig staar. Ek moes my hand soms vashou en na my ouma se dood was ek op my eie. Ek het familie gehad en mense vir wie ek dankbaar is, maar niemand kon hul hand oor my hou of dit vashou nie – ek moes leer om alleen dit vir myself te doen.”

Hierdie plaasmeisie wat die afgelope tyd by haar oom woon gee ook raad aan die groep van 2023.

“Die internet en jou onderwysers is tot jou beskikking. Gaan kyk videos. Gaan lees meer op as jy twyfel en vra jou vrae. Jy kan dit doen. Moet nooit dat iemand jou sukses onderskat nie. Daar is soveel negatiewe mense daarbuite wat sê die standaard is so verlaag en dit is eintlik maklik – dit is nie. Jou harde werk is jou harde werk – niemand anders sin nie,” voeg Armoed by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article