Jasmine Bones, die nuutste Agri’s got talent-wenner, was glad nie eens van plan om vir die jaarlikse kompetisie in te skryf nie.
“Oom Niklaas Hanekom het hier aangekom met ’n inskrywingsvorm en my aangemoedig om in te skryf vir die kompetisie. Ek was so verward, maar het besluit om die kans te waag en die beste daarvan te maak,” verduidelik die 28-jarige boomvormer by Witzenberg Properties in Ceres.
Haar senuwees het egter amper die beste van haar gekry.
“Die eerste drie dae van die oefenweek was ek siek, want dit was baie stresvol. Maar gelukkig het die oproepe van bemoediging van my familie en vriende baie gehelp en ek het deurgedruk.”
Sy vertel dat sy haar hele lewe lank al sing maar dat sy net al die jare gospel gesing het.
“My ma het destyds twee kore afgerig en ek was in albei. Ek is baie lief vir gospel en is veral gaande oor Juanita se gospelmusiek. Ek sing elke oomblik wat ek kan. Ek sit my oorfone aan en dan sing ek my gospelliedjies. So ek moes buite my gemaksone gaan toe ek aan hierdie kompetisie deelgeneem het.”
Sy bieg wel dis die mees uitdagende ding wat sy nog gedoen het, maar sê ook sy het baie uit hierdie ervaring geleer.
“Ek het dit so baie geniet en het ook so verskriklik baie geleer. Ek het goeie lesse van almal by die oefenkamp geleer en ek is so dankbaar daarvoor. Aan die einde van die week wou ek nie eens huis toe gaan nie, want ek het dit so geniet, ek het nooit geweet ek kon sulke note haal nie.”
Jasmine het voorstelle aan die afrigters gegee oor wat sy van plan was om te sing, maar hulle wou niks daarvan hoor nie.
“Hulle het my ander liedjies laat kies en ek was so bang, ek onthou ek het heeltyd gedink hierdie mense kan nie van my verwag om hierdie liedjies met hierdie hoë note te sing nie. Maar hulle het volle vertroue in my gehad.”
Die liedjie wat haar wen verseker het, was Celine Dion se weergawe van “River Deep, Mountain High”.
“Net voor ek op die verhoog moes gaan, het ek myself gekalmeer en ek het geweet ek sal die liedjie baasraak. Ek is so baie trots op myself.
“En nou wil ek elke keer net beter doen as my vorige optrede. Ek wil net my beste gee.”
Sy noem ook dat sy nog altyd daarvan gedroom het om professioneel in die musiekbedryf te werk, en dat sy stadig maar seker daarnatoe werk om haar droom eendag te verwesenlik.





