Jana Smit (15), ’n gr. 10-leerder aan Hoër Tegniese Skool (HTS) Drostdy, het verlede Donderdag ’n elle lange rugmurgoperasie ondergaan om ’n tumor te laat verwyder.

Die operasie was ’n sukses en ’n optimistiese Jana kan binnekort sonder pyn haar plattelandse lewe geniet.

Volgens haar ma, Doret Smit, sterk haar dogter steeds aan in Cape Gate Mediclinic en kan hopelik binnekort terugkeer Worcester toe.

Doret beskryf haar dogter as ’n “tawwe kind van die Karoo” wat afkomstig is van Laingsburg, haar nie sommer laat onderkry nie en haar herstelpad goed sal navigeer.

Volgens Jana se ma het sy ses weke gelede pyn ontwikkel in haar heupe en rug waarna Jana eers ’n fisioterapeut en toe hul huisdokter vir raad besoek het.

Ná hierdie afsprake is sy verwys na ’n ortopeed wat haar vir ’n MRI-skandering gestuur het, waar die langwerpige tumor die grootte van ’n duif se eier opgemerk is.

Jana is toe dadelik vir ’n operasie gereed gemaak.

Weens die ingewikkelde prosedure wat in Jana se senuwees en rugmurg sou volg, het almal hul asem opgehou en kon net vir die beste hoop.

Nóg ’n angswekkende brokkie nuus van die dokters, dat Jana net ’n 50%-kans sou gehad het om te kan loop ná die operasie, het sy ná ’n operasie van vier uur wakker geword en wel gevoel in beide haar bene gehad.

Sy loop tans met ’n kruk.

Volgens Doret was die tumor nie kwaadaardig nie, maar het wel geweldige pyn veroorsaak, weens drukking van die tumor op die rugmurg en senuwees soos dit gegroei het.

Die gewas het ook inwendige bloeding veroorsaak wat verdere pyn meegebring het.

Twee dae voor die operasie was Jana ook verlam in haar onderlyf.

Doret het telefonies aan Standard verduidelik dat daar ’n lang herstelpad voorlê. Jana kan eers in Julie teruggaan skool toe en haar hokkie eers volgende jaar hervat.


Volgens Doret is haar dogter ’n ywerige hokkiespeler en sal haar aktiewe leefstyl behou, selfs al is sy op die herstelpad, deur pilates-klasse by te woon.


“HTS Drostdy is baie tegemoetkomend en het ’n gebed vir Jana in die skool se vierkant gehou,” het Doret gesê, en ook vertel dat Jana se vriende haar ondersteun.


Jana en haar sibbe is leerders by HTS Drostdy. Hulle is Karoo-kinders in murg en been wat op ’n plaas buite Laingsburg grootgeword het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article