James Albanie, ’n Breedevalleier in murg en been uit Touwsrivier en ’n passievolle krieketspeler, is in September 2022 by die interprovinsiale veterane-kriekettoernooi gekies om vir die Protea-veterane-krieketspan, wat in Maart vanjaar aan die veterane-krieketwêreldbekertoernooi vir 50 jaar en ouer, deel te neem.
Volgens Albanie het hy ’n liefde vir alle sportsoorte gehad, maar krieket is die sportsoort wat sy hart vinniger laat klop. Hy beoefen hierdie sportsoort reeds 38 jaar op ’n professionele vlak.
Dié kranige krieketspeler het deur sy loopbaan oor 38 jaar vir verskeie klubs gespeel. Van hierdie klubs was plaaslike klubs in die Wes-Kaap, universiteitsklubs sowel as streeks- en provinsiale klubs soos die Bolandspan en die Wes-Kaapse o.21-span.
Tans speel Albanie vir die Rondebosch- en Vikings- veterane krieketklubs sowel as vir die Protea-veterane-krieketspan in die ouderdomsgroep 50 jaar en ouer.
“Enigiemand ouer as 40 kwalifiseer as ’n veteraan-krieketspeler,” het Albanie verduidelik.
Spelers sluit aan by veteraneklubs in hul provinsie, soos byvoorbeeld die Bolandse klubs soos die Somerset-Wes Vikings, die Stellenbosch Strikers, die Paarl Heat en die Groot Draak Griffens.
Verskillende afdelings bestaan ook vir spelers ouer as 40, 50, 60, 70 en selfs 80 jaar.
In Maart vanjaar is dit egter die krieket-veterane ouer as 50 se beurt om hul talent te wys wanneer die wêreldbekertoernooi eersdaags in Kaapstad afspeel.
Die veterane-krieketwêreldbeker vir 50-jariges begin op 6 Maart met die eindronde wat op 21 Maart op Nuweland gespeel word.
Die Protea-krieket-veteranespan speel op 6 Maart teen Indië in Wynberg, op 7 Maart teen Pakistan by Reddam House in Constantia, op 9 Maart teen Namibië in Rondebosch, op 10 Maart teen Wallis by die Hoërskool Milnerton en op 13 Maart teen Engeland op die Groot Draak in Franschhoek.
Volgens Albanie is Engeland en Pakistan se veterane-krieketspan vir 50-jariges en ouer die sterkste uitdaging vir die Proteas, maar hul doel bly steeds om hul land trots te maak en die beker te wen.




