Renée Jain.

Credit: SYSTEM

In ’n skokwending in die Renée Jain-moordsaak, is ’n polisiebeampte van Piketberg weens die moord onlangs gearresteer.

Die 51-jarige Jain wat as ’n bestuurder vir die Cape Union Mart-groep gewerk het en op die De Vierde Liefde-plaas en landgoed tussen Wolseley en Worcester gewoon het, is tydens ‘n huisroof op Donderdag 25 Maart 2021 vermoor. Haar liggaam is die volgende oggend ontdek.

Tydens die aanval was Jain se hande en voete vasgebind en haar mond en neus was toegeplak. Dit was toe al vermoed dat drie mans by haar moord betrokke was, aangesien hul na haar moord, ’n bejaarde egpaar langsaan ook beroof het.

In Mei vanjaar is twee mans in hul twintigs, Nolan Visagie en Nolan Schiller, in Tulbagh aangekeer. Hul het in November in die Tulbagh-streekshof verskyn, waarna die saak tot Januarie 2023 uitgestel is.

Adjudant Offisier Maurice Arries (48) van Piketberg is op Saterdag 3 Desember in sy tuisdorp gearresteer na dit aan die lig gekom het dat hy ook na bewering by die moord betrokke was.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, staan Arries tereg op aanklagte van moord, korrupsie, vervalsing, regsverydeling, bedrog en die gebruik van ’n voertuig sonder toestemming.

Die saak is uitgestel vir ’n borgtogaansoek wat sal geskied op Maandag 12 Desember. Hy bly vir eers in aanhouding.

Standard het verlede jaar in diepte verslag gedoen oor Jain se moord. Haar eggenoot, Raj, was in Kaapstad tydens die aanval en is ook werksaam by ’n bekende korporatiewe groep.

Jain se pa, André Rossouw, was ook ’n voormalige redakteur van Sarie, maar is reeds oorlede, Jain se suster, Nicci, is ook voor haar moord aan kanker reeds oorlede.

Jain se een vriend, Gerard van Nikkelen-Kuyper het aan Standard gesê dat haar moord vir hom en almal wat haar geken het, ’n groot skok was.

“Sy was ‘n merkwaardige persoon wat met integriteit geleef het en elkeen se lewe aangeraak het wat sy teègekom het. Sy gaan op persoonlike vlak en nog meer op professionele vlak deur baie mense gemis word.”

Huldeblyke het ingestroom van oraloor en is op haar sosialemediaprofiel gedeel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article