Worcester was verlede Vrydag weer in rep en roer toe 17 sakemanne en -vroue kamma in hegtenis geneem is vir ASD se jaarlikse Jailbreak-geldinsameling.
Byna twee dekades nadat die eerste Jailbreak gehou is, word die geld steeds jaarliks gebruik om ASD se kinders met sensoriese gestremdhede te versorg. Die projek word nou deur die voorsitter, Dries Burger, gedryf en het by die Worcester-Lionsklub plaasgevind.
Capital Security en lede van die Worcester korrektiewe sentrum het ’n gedugte span gevorm wat geen “gevangene” ’n geleentheid gegee het om weg te kom nie – selfs nie dié wat vooraf geoefen en planne beraam het om ’n lyn te sny nie!
Deelnemers moes minstens R3 000 se “borgtoggeld” insamel om hul vryheid te koop, maar danksy deelnemers se ekstra pogings is altesaam R110 000 ingesamel. Dié geld word by ASD se Sean Kelly-kinder- en jeugsorgsentrum vir kinders in nood aangewend, waar 14 kinders met gestremdhede tans woon.
ASD se bestuurskomitee betuig sy dank teenoor elkeen wat bygedra het tot die projek se sukses.





